Maxwell (60) is vroeër vanjaar 20 jaar tronkstraf opgelê omdat sy Jeffrey Epstein gehelp het om minderjarige meisies seksueel te mishandel.
Die aanklagte teen haar sluit in dat sy tussen 1994 en 2004 mensehandel gedryf het met minderjarige meisies en hulle voorberei het vir seksuele misdrywe met Epstein. Hy het homself in 2019 in sy Manhattan-tronksel gehang.
Maxwell het ’n onderhoud toegestaan aan die skrywer en filmmaker Daphne Barak, wat ook vroeër hierdie jaar eksklusiewe onderhoude gevoer het met die sangeres Britney Spears se eksman, Kevin Federline, en hul seuns Sean en Jayden.
Die Maxwell-onderhoud het in twee dele plaasgevind, het Barak vir die Daily Mail geskryf. Die eerste gedeelte in Brooklyn, New York, en die tweede in die tronk in Tallahassee, Florida, waar Maxwell sedert Julie vanjaar die res van haar vonnis uitdien.
In die breedvoerige onderhoud praat Maxwell ook oor haar veelbesproke vriendskap met Brittanje se prins Andrew (62). Die prins het vroeër vanjaar miljoene betaal in ’n skikking buite die hof aan Virginia Giuffre (38), wat hom van seksuele mishandeling beskuldig het. Virginia is na bewering een van Epstein – met wie die prins goeie vriende was – se sekshandelslagoffers.
Maxwell vertel aan Barak dat sy sleg voel vir Andrew.
“Ek volg wat met hom gebeur. Ek het aanvaar dat ons vriendskap nie my skuldigbevinding sou oorleef nie. Hy het so ’n duur prys betaal vir die verbintenis. Hy is ’n dierbare vriend,” vertel sy.
In ’n verdere wending het die voormalige sosiale vlinder beweer dat die foto van haar, Andrew en ’n jong Virginia nie eg is nie. Die bewering kom nadat Maxwell in 2015 in ’n e-pos aan haar prokureur geskryf het: “Dit lyk eg. Ek dink dit is.”
Die foto het ’n sentrale rol gespeel in die saak wat Virginia teen die hertog van York ingestel het. In sy rampspoedige BBC-onderhoud in 2019 het die prins die skuld vir die bewerings teen hom op Maxwell probeer pak. Hy het beweer dat hy geen kennis gedra het van Epstein se misdrywe toe hy die finansier en Maxwell in 2006 na Windsor-kasteel genooi het nie.
“Onthou sy meisie was die sleutel tot dit alles. Epstein was daar as ’n omstander,” het Andrew destyds gesê.
Barak het ook meer besonderhede verskaf oor die toestande waaronder Maxwell aangehou word, onder meer dat sy vir 23 ure per dag in ’n sel van sewe vierkante meter saam met drie selmaats is. Die onderhoude word hierdie week as spesiale televisieuitsendings in Brittanje en Amerika uitgesaai.
Bronne: Sky News, The Guardian, Daily Mail