Gwyneth Paltrow en Brad Pitt steeds ‘lief vir mekaar’ 25 jaar ná hulle uitmaak

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hulle het in die 1990’s uitgegaan en het so amper voor die kansel beland nadat hulle ’n ruk lank verloof was, maar al het Gwyneth Paltrow en Brad Pitt toe nie getrou nie, het die aktrise wel op die ou einde haar “regte Brad” gevind.

Gwyneth, wat voorheen met die Coldplay-hoofsanger Chris Martin (45) getroud was, het in September 2018 met die TV-vervaardiger Brad Falchuk (51) afgehaak.

Die 49-jarige aktrise en stigter van die leefstylhandelsnaam Goop het onlangs ’n onderhoud saam met haar eksverloofde, die akteur Brad Pitt (58), gedoen en daarin het sy gespot dat sy darem toe haar regte Brad gevind het. 

brad pitt
Gwyneth Paltrow en Brad Pitt het uitgegaan. Foto: Alamy

Gwyneth en Brad het in 1994 begin uitgaan nadat hulle op die stel van die misdaadriller Se7en ontmoet het. Hulle het in Desember 1996 verloof geraak, maar ’n paar maande later in 1997 die verlowing verbreek.

Maar moenie dink daar is ná 25 jaar kwade gevoelens tussen die ekse nie.

Gwyneth en Brad vertel hulle is steeds lief vir mekaar al het dinge nie tussen hulle uitgewerk nie. 

Die twee het onlangs in ’n onderhoud gesels oor Brad se betrokkenheid by die kasjmier-handelsmerk, God’s True Cashmere. Hulle het toe sommer oor hul verhouding gesels. 

Gwyneth Paltrow, founder and chief executive offic
Gwyneth Paltrow. Foto: Getty Images/Gallo Images

Hulle het ook gepraat oor Gwyneth se pa, die televisievervaardiger Bruce Paltrow, wat in 2002 op 58 sy stryd teen keelkanker verloor het.

“Ek sal dit nooit vergeet nie, maar toe ons verloof was, het hy met oë vol trane na my toe gekom en vir my gesê: Jy weet. Ek het nooit besef wat mense bedoel wanneer hulle sê jy kry ’n seun wanneer jou dogter met ’n man trou nie. Maar ek kry ’n seun,” het Brad vertel.


Gwyneth en Brad sê hoewel hulle nie getrou het nie, dink hulle dinge het uitgewerk soos wat dit moes. 

Sy het later getrou en twee kinders, Apple (18) en Moses (16), by haar eksman, Chris, gehad. En nou het sy “uiteindelik die Brad gevind wat ek veronderstel was om mee te trou”, vertel die aktrise.

“Dit het my net 20 jaar geneem,” het Gwyneth gesê oor haar huidige man, met wie sy al vier jaar getroud is.

brad pitt
Brad Pitt. Foto: Getty Images/Gallo Images

Brad het verder onthul dis wonderlik om Gwyneth as ’n vriendin te hê en toe sommer verklaar hy is lief vir haar. “Ek is net so lief vir jou,” het Gwyneth geantwoord. 


Gwyneth het al voorheen onthul dat haar pa, Bruce, verpletter was toe haar en Brad se paadjies in 1997 geskei het. 

“Hy was so pragtig en oulik. Ek bedoel: Hy was Brad Pitt!”


Brad was sedert hy en Gwyneth uitmekaar is al twee keer voor die kansel. Die eerste keer was in 2000 toe hy en die aktrise Jennifer Aniston (53) afgehaak het. Hulle is vyf jaar later geskei.


Hy het hierna ’n verhouding met die aktrise, Angelina Jolie (47), aangeknoop nadat hy haar op die stel van die fliek Mr. & Mrs. Smith ontmoet het. Hulle het meer as ’n dekade later in 2014 getrou, maar twee jaar later het Angie ’n skeisaak aanhangig gemaak. 

Brad en Angelina het ses kinders, Maddox (20), Pax (18), Zahara (17), Shiloh (16) en die 13-jarige tweeling, Knox en Vivienne.


Bronne: Goop, Harper’s Bazaar, CNN, USA Today, US Weekly

Jongste uitgawe

25 Augustus 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees
Huisgenoot Eisteddfod

Wys jou talent en kry meestersklasse by bekendes!

Huisgenoot Eisteddfod
Is jou kind talentvol en lief vir die kunste? Skryf nou in vir Huisgenoot se splinternuwe aanlyn nasionale kunsfees.
Skryf nou in