Harry en Meghan 3 jaar getroud: Kyk hoe lyk hul lewe nou

akkreditasie
Prins Harry en sy vrou, Meghan, die hertog en hertogin van Sussex, vier vandag hul derde huweliksherdenking.

Harry (36), die jongste seun van prins Charles en die ontslape prinses Diana, is op 19 Mei 2018 in die St. George-kapel in Windsor, Engeland, met Meghan Markle (39), ’n voormalige Amerikaanse aktrise, getroud. 

Die hertog en hertogin van Sussex verlaat die Sint
Die hertog en hertogin van Sussex verlaat die St. George-kapel na hul troue op 19 Mei 2018. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die paartjie het in 2016 deur gemeenskaplike vriende ontmoet. 

Net voor hul eerste huweliksherdenking het Meghan geboorte geskenk aan hul eersteling, ’n seuntjie wat hulle Archie Mountbatten-Windsor (2) genoem het. 

Archie tydens die gesin se toer na Suid-Afrika. Fo
Archie tydens die gesin se toer na Suid-Afrika. Foto: Gallo Images/Getty Images

In Januarie 2020 het die Sussex-egpaar die wêreld geskok toe hulle aankondig dat hulle gaan terugstaan van hul pligte as senior koninklikes en Brittanje vir die sonnige strande van Kalifornië verruil. 

Meghan en Harry, die hertogin en hertog van Sussex
Meghan en Harry, die hertogin en hertog van Sussex, is vandag drie jaar getroud. Foto: Getty Images/Gallo Images

Hulle woon sedertdien in ’n herehuis in Montecito met nege slaapkamers en 16 badkamers. 

Ter ere van hul herdenking kyk Huisgenoot terug na ’n paar groot gebeure in die paartjie se lewe die afgelope jaar. 

Daardie onderhoud

Daar sal waarskynlik nog vir jare gegons word oor die opspraakwekkende onderhoud wat Harry en Meghan in Maart vanjaar met die kletskoningin Oprah Winfrey gevoer het. 

In dié onderhoud het die paartjie uitgebrei oor die redes vir hul wegbreek van die Britse koninklike familie. Hulle het ook senior koninklike lede van die familie van rassisme beskuldig. Meghan het vertel dat daar vrae was oor hoe donker hul eersteling, Archie, se vel sou wees wanneer hy gebore word.

Tydens hul onderhoud met Oprah. Foto: Gallo Images
Tydens hul onderhoud met Oprah. Foto: Gallo Images/Getty Images

Oprah het later aan haar vriendin, die televisieaanbieder Gayle King, vertel dat Harry aan haar genoem het dat dit nie sy ouma, koningin Elizabeth, of oupa, prins Philip, was wat die aanmerkings gemaak het nie. Philip is sowat ’n maand na die onderhoud oorlede. 

Voor die onderhoud het Meghan en Harry op Valentynsdag vanjaar onthul dat Meghan weer swanger is met hul tweede kind. 

Meghan se openhartige brief oor haar miskraam

In November 2020 het Meghan in ’n openhartige brief in die New York Times met die wêreld gedeel dat sy in Julie verlede jaar ’n miskraam beleef het. 

“Ek het geweet, terwyl ek my eersgeborene vashou, dat ek besig was om my tweede baba te verloor,” het Meghan geskryf. 

Alhoewel daardie seer altyd daar sal wees vir die paartjie, was aanhangers verheug toe hulle op Valentynsdag Meghan se swangerskap bekendgemaak het. Die aankondiging was nog meer spesiaal, aangesien die nuus dat Diana swanger was met Harry 37 jaar tevore ook op Valentynsdag onthul is. 

In hul onderhoud met Oprah het die paartjie verklap dat baba Sussex no.2 ’n dogtertjie gaan wees wat haar opwagting in die Amerikaanse somer gaan maak. 

Nuwe loopbaankeuses

Met die aankondiging van hul uittrede uit koninklike pligte het Meghan en Harry aangedui dat hulle in die toekoms finansieël onafhanklik van die koninklike geldkoffers wou wees. En met die vennootskappe wat die tweetjies daarna gesluit het, het hulle seker gemaak hulle kan op eie houtjie voortgaan. 

In September 2020 het hulle bekendgemaak dat hulle ’n ooreenkoms met die stromingsdiens Netflix gesluit het. Hulle sal voortaan eksklusiewe inhoud skep vir Netflix. Die eerste van hierdie sal ’n dokumentêr oor Harry se Invictus-Spele vir gewonde soldate wees. 

Dit vind alles plaas onder die vaandel van hul liefdadigheidorganisasie Archewell. Hulle het ook ’n podsending, Archewell Audio, geloods op die stroomdiens Spotify. 

Harry se terugkeer huistoe

Op 9 April vanjaar het koningin Elizabeth die afsterwe van haar geliefde Philip aangekondig. Harry, wat in Maart 2020 laas in Engeland was, het alleen teruggekeer vir sy oupa se begrafnis op 17 April. 

Harry tydens prins Philip se begrafnis. Foto: Gall
Harry tydens prins Philip se begrafnis. Foto: Gallo Images/Getty Images

Op advies van haar dokters het Meghan tuisgebly saam met klein Archie. 

Die paartjie het hulde gebring aan Philip op die Archewell-webtuiste. 

Harry is veronderstel om in Julie vanjaar terug te keer na Londen vir die onthulling van ’n standbeeld vir sy ma, Diana. Sy sou op 1 Julie vanjaar haar 60ste verjaardag gevier het. Nuuskieriges is gretig om te sien of baba Sussex al teen daardie tyd hier sal wees en of die hele gesin die reis Engeland toe gaan aanpak. 

Hul lewe in Kalifornië

In hul onderhoud met Oprah het Harry en Meghan hul hoenderhok genaamd Archie’s Chick Inn gewys waar hulle hoenderhenne grootmaak wat gered is van fabrieke. Die gesin het ook twee honde, Guy en Pula. 

Harry het aan Oprah vertel hul skuif na Santa Barbara was baie goed vir Archie. 

“Om ruimtes te hê waar ek met Archie kan gaan stap en waar ons as familie kan gaan stap met die honde. Ons vat gereeld wandelings of gaan strand toe, wat so naby is,” het hy vertel. 

Die paartjie is ook al gewaar toe hulle uit was aandete met die musiekvervaardiger David Foster en sy vrou, die aktrise Katharine McPhee. Meghan en Katharine was saam op skool in Kalifornië. 

Bronne: The Guardian, People, Town and Country, Variety

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

19 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees