Harry en Meghan: Welkom, klein Lilibet Diana

akkreditasie
Prins Harry, Meghan en Archie in Kaapstad op 25 September 2019. Foto:  Toby Melville/Pool/Samir Hussein/WireImage
Prins Harry, Meghan en Archie in Kaapstad op 25 September 2019. Foto: Toby Melville/Pool/Samir Hussein/WireImage
Prins Harry en sy vrou, Meghan, se eersteling, Archie (2), het op 4 Junie 'n ouboet geword, en sy sussie se naam bring hulde aan koningin Elizabeth en Harry se geliefde ma, wyle prinses Diana.

Die nuus van die egpaar se tweede kind se geboorte is laat Sondagaand (plaaslike tyd) bekend gemaak. In die verklaring, wat deur die mediasekretaris vir die hertog en hertogin van Sussex uitgereik is, is daar bekend gemaak dat Harry (36) en Meghan (39) hul dogtertjie Vrydagoggend 11:40 verwelkom het.

Sy heet Lilibet “Lili” Diana Mountbatten-Windsor. Haar name is 'n huldeblyk aan beide koningin Elizabeth (95) en Diana.

Archie se sussie is in die Santa Barbara Cottage-hospitaal in Santa Barbara, Kalifornië, gebore. Sy het 3,49 kg by geboorte geweeg en volgens die verklaring is ma en dogter beide gesond en tuis.

“Lili” is vernoem na haar oumagrootjie, koningin Elizabeth, wie se troetelnaam Lilibet bly voortleef het danksy haar man, die pas afgestorwe prins Philip. Die naam Lilibet het volgens gerugte ontstaan omdat die koningin as dogtertjie sélf gesukkel het om haar naam uit te spreek en sy het na haarself as Lilibet verwys.

En natuurlik is die nuweling se middelnaam, Diana, ’n huldeblyk aan haar geliefde ouma, Diana, wat in 1997 tragies op 36 gesterf het.

Die aankondiging van Harry en Meghan se dogtertjie se geboorte is op hul webtuiste gemaak.

Daarop het die egpaar geskryf: “Op 4 Junie is ons geseën met die aankoms van ons dogter, Lili. Sy is meer as wat ons onsself ooit kon indink. Ons is dankbaar vir die liefde en die gebede wat ons van regoor die wêreld ervaar. Dankie vir jul deurlopende omgee en ondersteuning tydens hierdie baie spesiale tyd vir ons gesin.”

Harry en Meghan het die geslag van hul tweede kind bekend gemaak tydens hul opspraakwekkende onderhoud in Februarie vanjaar met die kletskoningin Oprah Winfrey. Klein Lilibet is die koningin se elfde agterkleinkind en agtste in die lyn van troonopvolgers ná haar oupa Charles (72), haar oom, prins William (38), sy drie kinders, prins George (7), prinses Charlotte (6) en prins Louis (3), haar pa, Harry, en ouboet Archie.

Omdat sy in Amerika gebore is, het sy nou ook dubbele burgerskap: Amerikaans en Brits.

'n Woordvoerder vir Buckinghampaleis het bekend gemaak dat die koningin, die prins van Wallis en die hertogin van Cornwall, asook die hertog en hertogin van Cambridge ingelig is oor klein Lilibet se geboorte en dat hulle baie ingenome is met Harry en Meghan se dogtertjie se koms.

“Veels geluk Harry, Meghan en Archie met baba Lilibet Diana se koms. Ons wens hulle die beste toe in hierdie spesiale tyd,” het Charles en sy vrou, Camilla, op hul Twitter-profiel laat hoor.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Bronne: thehill.com, archewell.com, accessonline.com, cnn.com

Jongste uitgawe

9 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees