Harry en Meghan wil klein Lilibet by Windsor-kasteel doop

akkreditasie
Prins Harry (36) en sy vrou, Meghan (39), wil hul dogtertjie, Lilibet Diana, voor sy ouma koningin Elizabeth by Windsor-kasteel doop, sê koninklike bronne.
Prins Harry en Meghan in Dubbo, Australië. Foto: C
Prins Harry en Meghan in Dubbo, Australië. Foto: Chris Jackson/Pool/Getty Images

Harry het glo sy wense duidelik gemaak toe hy vroeër vandeesmaand in Engeland was vir die onthulling van ’n standbeeld van sy ma, wyle prinses Diana, op wat haar 60ste verjaardag sou wees.

“Harry het aan verskeie mense gesê hulle wil Lili by Windsor doop, net soos haar ouboet Archie,” vertel een bron. “Hulle is gewillig om te wag tot omstandighede dit toelaat.”

Dié nuus sal natuurlik die wenkbroue laat lig, veral weens die omstredenheid rondom die hertog en hertogin van Sussex sedert hulle verlede jaar uitgetree het uit die Britse koninklike familie. Hulle woon deesdae in Montecito in Santa Barbara, Kalifornië.

Kritici sê dit lyk of hulle steeds wil vasklou aan die voordele van die koninklike lewe, en dit terwyl hulle heeltyd die Britse monargie kritiseer – iets wat ’n groot skeuring tussen hulle en die res van die koninklike familie veroorsaak het, veral tussen Harry en sy broer, prins William (39).

Koninklike aanhangers sal die opskudding onthou toe hulle besluit het om in Julie 2019 hul eersteling, Archie (nou 2), se doopseremonie privaat te hou. Die koningin was nie daar nie omdat sy reeds ’n ander verpligting gehad het.

Archie se doopdag. Foto: Getty Images/Gallo Images
Archie se doopdag. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die 25 gaste wat genooi is, het deur ’n agteringang by die St. George-kapel by Windsor aangekom en geen besonderhede oor die baba se peetouers is bekend gemaak nie. Die hertog en hertogin van Cambridge, prins Charles en Camilla asook Meghan se ma, Doria Ragland, was teenwoordig by die doopseremonie.

Dit was ’n oortreding van koninklike protokol – peetouers van koninklike babas is tradisioneel voor die tyd aangekondig, dikwels op die oggend van die doopseremonie.

Tyd sal leer of die Sessexe se wens vir hul dogter waar gaan word. As hulle toestemming kry, sal dit die eerste keer wees dat Meghan weer haar voete in Engeland sit sedert sy en Harry as werkende senior lede van die Britse koninklike familie uitgetree het.

Meghan het op 4 Junie by die Santa Barbara Cottage-hospitaal in Santa Barbara die lewe geskenk aan hul dogtertjie, Lilibet. Dis net 10 minute van hul huis in Montecito.

Lilbet is die koningin se noemnaam uit haar kinderjare. Die koningin het glo haar naamgenoot tydens ’n video-oproep ontmoet nadat sy en Meghan uit die hospitaal ontslaan is en tuis gekom het.

Die koningin in gesprek met Meghan en prins Harry.
Die koningin in gesprek met Meghan en prins Harry. Foto: Getty Images/Gallo Images

’n Bron ná aan die koningsgesin het gesê die Sussexe sal met “ope arms” deur die koningin verwelkom word. Duncan Larcome het in sy Woman-kolom geskryf die koningin is baie gretig om haar nuwe agterkleindogter so gou as moontlik te ontmoet.

“Ongeag alles wat gesê en gedoen is, is haar majesteit baie lief vir Harry en beskou sy hom as ’n belangrike deel van die koningsgesin.”

Die Sussexe se besluit om hul dogter na Harry se ouma te vernoem is gesien as ’n poging deur die egpaar om weer brûe te bou met die koninklike familie ná hul skok-uitttrede en trek na Amerika verlede jaar.

Hul opspraakwekkende onderhoud met die kletskoningin Oprah Winfrey in Maart vanjaar het hulle net nog meer vervreem van Harry se familie nadat hulle die monargie beskuldig het van rassisme, emosionele afskeping en boeliery.

En ons reken die feit dat Harry nou bekend gemaak het hy gaan sy memoirs skryf, maak hulle net meer benoud. Dit tref volgende jaar die rak.

Volgens die BBC het die hertog privaat met sy familie gesels oor die boek wat hy skryf. ’n Woordvoerder vir Harry sê daar word nie verwag van hom om van Buckingham-paleis toestemming vir die projek te kry nie.

“Ek skryf dit nie as die prins wat ek gebore is nie, maar as die man wat ek geword het,” het Harry in ’n persverklaring gesê. 

Bronne: archewell.com, womanandhome.com, dailymail.co.uk, standard.co.uk, express.co.uk

Jongste uitgawe

3 Februarie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees