Wanneer ’n mens sterf, kom ’n hele wêreld saam met jou tot ’n einde. Herinneringe wat jy ronddra en dinge wat jy in stand gehou het, is meteens daarmee heen.
In min gevalle is dit so duidelik sigbaar soos toe die 69-jarige Jerry Watt verlede maand in Kaapstad sy laaste asem op sy sterfbed uitgeasem het.
Jerry was 52 jaar lank ’n lid van Kaapstad se legendariese musiekgroep The Rockets. Drie geslagte Suid-Afrikaners het voete beweeg en hande geklap wanneer hulle hom met sy blink baadjie en pers kitaar op die verhoog dopgehou het. The Rockets is al dekades lank ’n instelling in die plaaslike musiekbedryf.