Wanneer hy hier agter die kospotte inskuif, is hy op sy gelukkigste. Natuurlik ook op ander plekke – agter enige pot of pan voel hy immers tuis – maar veral hier. Want die televisiesjef en kosredakteur Herman Lensing se kombuis is die hart van sy huis, die spil waarom alles draai.
En hier, tussen die rits kookboeke, helderkleurige potte en bloedrooi kombuistoestelle wat oral uitgestal is, word uitbundig gelag, trane gestort, behoorlik gekuier, en kos gemaak, natuurlik!
Sy huis in die Kaapse voorstad Welgemoed is juis rondom hierdie vertrek ontwerp, en wanneer familie en vriende kom kuier, sit hulle selde om die lang houttafel indie eetkamer en dikwels eerder in die kombuis.