Reeds toe die eerste episodes uitgesaai is, het ’n mens gesien hier gaan die hare vlieg. Wanneer van die vroue aanbied om mekaar se botoks-inspuitings te betaal, of kla dat ander te veel oor naels praat, voel jy deurgaans daar gaan enige oomblik ’n katgeveg losbars.
Maar min mense sou kon voorspel die grootste drama in Die Real Housewives van Pretoria gaan losbars nie net om die kop van een van die vroue nie, maar om ’n Housewife én haar man.
Peet Viljoen, die eggenoot van die Housewife Melany, oftewel Mel, staan beskuldig van meer misdrywe as wat party van die vroue skoene in hul instapklerekaste het. Van dié beskuldigings het al in die hof gaan draai, en die nasionale vervolgingsgesag sê die vervolging gaan voort.