Jy’t hom altyd gehoor nog voor jy hom gesien het, en hoe dan anders? Die lang, sjarmante man was van oraloor bekend vir daardie goue, diep stem.
Ja, Louis van Niekerk was tereg ’n sagmoedige reus, ’n weergalose talent, ’n baken vir die kunste, ’n televisie- en verhoogveteraan – maar dit was altyd dáárdie bekende stem wat aanhangers betower het.
Maar vandag is sy stem stil. Louis is Dinsdagaand in die ouderdom van 87 oorlede.
Sy dood is Woensdagoggend deur vriende en kollegas in die bedryf betreur – en almal sê een ding: Sy dood is ’n onskatbare verlies vir sy geliefdes, ja, maar ook vir ’n bedryf waarin hy meer as sewe dekades gewerk het.
Die akteur se dood is deur NvR Management in ’n verklaring bevestig.
“Dis met diepe leedwese dat ons vanaand verneem het van Louis van Niekerk se afsterwe,” lui die verklaring op hul Facebookblad. “Ons kultuur en kunste is armer. ’n Groot boom het geval vandag. Rus in vrede Louis.”
Louis, ’n verhoog-, televisie- en rolprentakteur, is al voor die kameras sedert hy 12 jaar oud was. Sy vernaamste rolle was in produksies of reekse soos Mattewis en Meraai, Nag van Legio, Siener in die Suburbs en Kanna Hy kô Hystoe.
Hy het in 1975 die titelrol vertolk in François Swart se Afrikaanse produksie van Othello saam met Sandra Prinsloo en Marius Weyers.
Meer onlangs, natuurlik, word Louis onthou vir sy rol as oom Festus in die kykNET-sepie Getroud met rugby wat verlede jaar ten einde geloop het.
“Sy talent, rustige teenwoordigheid in die ateljee, kalmte en weergalose talent, goue stem en begrip van hoe om vir ’n mikrofoon te speel, het ons almal verryk,” skryf die skrywer Leon van Nierop oor Louis. “Wat ’n verlies. Hoe hartseer is ’n mens nie. En wat ’n reuse-talent verloor die vermaaklikheidsbedryf nie.”Die aktrise Marijke Coetser, wat teenoor hom in Getroud met rugby gespeel het, skryf: “Dit was ’n eer om saam oom te kon speel vir soveel jare. ’n Ware legende.”
Die akteur Gérard Rudolf sê die leemte wat Louis se dood agterlaat, kan nie gevul word nie. “Nog ’n groot gees van ons klein bedryf het ons verlaat. Rus in vrede, liefste Louis van Niekerk. Jy was sag, lig, intens en mooi. Een van die laaste ware gentlemen. Jy laat ’n groot leemte.”
Louis se vrou, Lettie, is in die 1980’s oorlede. Die oorsaak van sy dood was teen Woensdag nog onbekend.