Jennifer Aniston, Courteney Cox en kie deel medelye ná 'Friends'-akteur sterf

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hy was bekend daarvoor dat hy die groep vriende se koffie vir hulle gebring het, en hy was dolverlief op Rachel.

Dít is hoe die akteur James Michael Tyler, wat die rol van Gunther vertolk het, onthou sal word nadat hy Sondag op 59 jaar oud in sy huis in Los Angeles, Kalifornië, oorlede is. 

Dié akteur het sy stryd teen kanker verloor nadat prostaatkanker in 2018 by hom gediagnoseer is. 

James het in Junie bekendgemaak dat hy vlak 4-prostaatkanker het toe hy op NBC se nuusprogram Today verskyn het. Hy het toe onthul die dokters het sy kanker tydens ’n roetineondersoek ontdek toe hy 56 was.

Die kanker het na sy bene versprei en veroorsaak dat hy nie kon loop nie, waarna hy hormoonterapie moes ontvang.

En hoewel die wêreld hom as Gunther, die bestuurder van Central Perk ken, sê James se woordvoerder, Toni Benson, hy was ’n liefdevolle eggenoot, ’n aktivis, ’n akteur en ’n musikant.

“Michael was lief vir musiek en het homself dikwels in pret en onbeplande avonture bevind. As jy hom ontmoet het, het jy ’n vriend vir altyd gemaak,” lui die verklaring.

Die medeskeppers van Friends, Marta Kauffman en David Crane, het in ’n verklaring aan CNN gesê James was ’n “opregte, vriendelike, lieflike man”.

Martha en David sê James het so ’n unieke gees gehad dat hulle hom ’n karakter móés maak.

“Ons dink ook aan sy vrou Jennifer Carno," lui die verklaring wat Martha en David uitgereik het.

James het vroeër vanjaar virtueel in Friends: The Reunion verskyn omdat hy weens gesondheidsredes nie persoonlik in die episode kon wees nie. Hy het eerder met ’n Zoom-oproep ingeskakel en gesê: “Dit was eerlikwaar die onvergeetlikste 10 jaar van my lewe.”

“Ek kon my nie ’n beter ervaring voorstel nie. Hierdie ouens was fantasties en net ’n plesier om mee saam te werk. Dit het baie, baie spesiaal gevoel.”

Baie van die Friends-akteurs, waaronder Jennifer Aniston en Courteney Cox, het reeds hul medelye op sosiale media uitgespreek nadat James dood is.

Jennifer het in ’n Instagram-plasing hulde aan James gebring wat 10 seisoene lank dolverlief op haar karakter, Rachel, was.

Friends sou nie dieselfde sonder jou gewees het nie."

Sy het James bedank omdat hy ’n ligte atmosfeer na die program, asook die akteurs se lewens gebring het.

"Jy sal baie gemis word," het sy geskryf. 

Courteney wat die rol van Monica vertolk het, het James bedank omdat hy altyd dankbaarheid na die stel gebring het en skryf hy moet in vrede rus.

Friends se amptelike Twitterrekening het ’n boodskap van Warner Bros. Television Studios gedeel en sê hulle rou oor James se dood.

“Ons dink aan sy familie, vriende, kollegas en aanhangers.”

Bronne:CNN, The Guardian,Twitter,YouTube,Instagram
Teken in op ons nuusbriewe
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!
Jongste uitgawe

2 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees