“Ek is so bly maar ook doodbang om dit eindelik te deel,” het die “Bang Bang”-sangeres 6 Januarie op haar Instagram geskryf by ’n foto van ’n positiewe swangerskaptoets.
“Wees asseblief sag met my. Eerlikwaar, ek wil net lelik huil in die publiek met ’n katpak aan terwyl ek ’n agurkie met sjokolade daarop eet sonder dat mense vrae vra.”
Die ster het in 2021 besluit om alleen ’n baba te hê nadat sy en die danser en choreograaf Max Pham Nguyen se paadjies in Oktober daardie jaar geskei het, het Huisgenoot verlede jaar berig.
Nadat sy in November verlede jaar die nuus oor haar miskraam met haar Instagram-volgelinge gedeel het, het sy gedurende ’n vertoning op die verhoog in trane uitgebars en vir die gehoor gesê: “Dit was verreweg die moeilikste jaar nog.”
Die sangeres, wat een van die mentors op The Voice Australia was, plaas video’s van haar swangerskapreis op Instagram, en in een van die video’s sê sy: “Ek kan nie eers verduidelik hoe siek ek voel nie,” terwyl sy video’s wys van hoe sy gereeld naar en emosioneel raak.
In ’n ander video beskryf sy hoe sy haar verbeel haar baba in haar baarmoeder optree, en sy skryf spottend “Bang Bang into the womb”, wat sinspeel op haar liedjie “Bang Bang” se lirieke: “Bang Bang into the room”.
Die aktrise het ook ’n video geplaas waarin sy ’n hele komkommer eet en waarby sy skryf dat sy opgewonde, gelukkig en dankbaar is.
Die sangeres gaan sedert April verlede jaar uit met die basketbalspeler Chanan Safir Colman (38).
In Mei verlede jaar het Jessie gesê sy is “behoorlik verlief”.
Bronne: people.com, dailymail.co.uk, 7news.com.au, capitalfm.com