JACQUES KALLIS
Die oud-Protea-krieketspeler Jacques Kallis se vrou, Charlene, het die oulikste foto’s van hul nege maande oue seuntjie, Joshua Henry, op Instagram gedeel. Op die foto’s is haar “klein Kersfees-elf”, soos sy die knapie noem, voor ’n Kersboom te sien.
“Dit begin baie soos Kersfees lyk! Dis my gunstelingtyd van die jaar en dié jaar gaan die spesiaalste van almal wees,” skryf sy.
JUANITA DE VILLIERS
Die Getroud met rugby-aktrise en haar regisseur-man, André Velts, het in September ouers geword en wil Kersfees spesiaal maak vir hul dogter, Zia. “Dit gaan voel soos toe ons kinders was, en ek sien baie daarna uit,” sê Juanita. Hulle gaan eers Langebaan en dan Knysna toe.
Om met jou familie te kan wees, is ‘n belangrike deel van Kersfees vir Juanita.
“Vir my beteken Kersfees die samesyn van familie en vriende, rustyd vir ons siele en liggame en ook refleksietyd om dankbaar te staan teenoor ons God vir al ons seëninge en goeie gesondheid,” vertel sy.
“Kersfees gaan vanjaar ekstra spesiaal wees omdat ons nog ’n lewe in ons lewe vier. Ons albei se ouers sal haar kan geniet.”
DANIËLLA VAN HEERDEN
Dié eNuus-leser en haar fotograaf-man, Cornél, sien uit na hul eerste Kersfees saam met hul dogtertjie, Simoné. “Sy is op Kersdag presies nege maande oud,” sê Daniëlla. “Sy het nou al begin kruip en kan lekker met ons speel.” Dis ’n bonus dat Daniëlla nie op Kersdag werk nie.
“Ons het met vorige Kersfeeste nie besef hoe kosbaar tyd saam met familie is nie, maar hierdie jaar, waarin dit nie noodwendig ’n gegewe is nie, gaan ons die tyd saam met ons geliefdes ekstra koester.”
QUANITA ADAMS
Die aktrise en haar man, Brian Monroe, se eersteling, Alia, is in Mei gebore.
“Sy is die beste geskenk waarvoor ons kon wens, so dié Kersfees is reeds die beste een ooit!” vertel Quanita. Alia het al saam met haar ma op ’n fliekstel gekuier. Quanita het op Instagram ’n foto van haar gedeel waar sy hard aan die werk is met klein Alia op haar skoot. Te oulik!
Quanita verklap dat familie haar gunsteling-Kersfeesherinnering is.
“Elke jaar vier ons saam en daar is altyd genoeg vir ekstra gaste. Ek is mal oor die opwinding van geskenke oopmaak.
“Ons speel 'n Kersspeletjie wat my Noorweegse skoonsuster ons geleer het wat deel van hulle tradisie is. Dis baie spesiaal, want dis ’n gemengde affêre, Moslem, Christen, elkeen bring waarvoor hulle lief is en ons vier die dag,” laat die aktrise hoor.
VILJÉ MARITZ
Die geboorte van Viljé se seuntjie, Albert van Zyl Maritz, in November het sy lewe verander. “Ek probeer nou alles so gou moontlik gedoen kry sodat ek by die huis kan kom en tyd saam met hom deurbring,” sê die akteur en TV-aanbieder.
Sy verloofde, Lianry Botes, het ook ’n sesjarige dogter, Leja, uit ’n vorige verhouding. “Oor Kersfees wil ek klein Albert graag bederf, nie net met geskenke nie, maar met ongelooflik baie liefde,” sê Viljé. Klein Albert is na sy bekende oupa, die akteur Albert Maritz, genoem.