Wat kan geld nie koop nie? ’n Lewe sonder sorge. Justin Bieber (28) is dalk skatryk, wêreldberoemd en een van die topverkopersangers van die afgelope paar jaar, maar sy lewe is nie altyd ’n lied nie. Maar sal hy voorgee als gaan goed en ’n gesig opsit? Nee, nie hý nie – nie figuurlik óf letterlik nie.
Trouens, die superster het onlangs vir sy 243 miljoen volgelinge op Instagram gewys presies hoe hard die houe van die lewe hom deesdae tref. In ’n video het hy verduidelik – en gewys – die linkerkant van sy gesig is deels verlam nadat ’n skaars sindroom sy kloue in hom geslaan het.
“Soos julle op my gesig kan sien, het ek hierdie sindroom genaamd Ramsay Hunt-sindroom,” vertel hy in die video. “Dis weens hierdie virus wat die senuwee in my oor en gesig aanval en wat my gesig verlam gelaat het.” Dan beduie hy na sy hangoog.