Karlien se Elah tuis ná hospitaal-besoek: ‘Ons is ongelooflik dankbaar’

akkreditasie
Die sangeres Karlien van Jaarsveld en haar man, Joe Breytenbach, se dogtertjie, Elah (3), is tuis nadat sy die naweek in die hospitaal moes deurbring. “Elah is by die huis en almal is bly!” skryf Karlien op Instagram.

In een van die video’s kan gesien word hoe klein Elah se tweelingboeties, Daniël en Eliah (7), haar van blydskap omhels. Dit lyk ook asof Elah haar skattige ou self is.  

Karlien en Joe se blondekop dogtertjie is in Oktober 2017 ses weke te vroeg gebore. Toe sy sewe maande oud was, kom die skokdiagnose: Elah het ’n lewensgevaarlike mediese toestand – ’n bloedklont in die poortaar wat bloed voorsien aan haar lewer, milt, maag en pankreas. 

Die sangeres het die naweek ’n reeks foto’s van klein Elah in ’n hospitaalbed geplaas en onthul dat sy skielik siek geraak het. 

Karlien skryf as Elah opgooi, weet sy altyd dis moontlik gevaarlik, as gevolg van die reeds hoë druk in haar poortaar. Karlien het haar na ’n dokter gehaas en dié het vermoed dis moontlik ’n maagvirus, skryf sy. 

In Desember 2018 moes Elah ’n bloedoortapping kry nadat die are in haar slukderm en maag begin bloei het. 

Op 16 Februarie 2019 is Elah uit die hospitaal ontslaan ná ’n vergeefse poging om die vernoude aar met ’n aar van elders in haar lyfie te vervang

Karlien vertel verder dat Elah Sondagoggend teater toe moes gaan. “Sy moet negeuur teater toe sodat hulle kan sien waar die bloed vandaan kom, en sy moet weer ’n bloedoortapping kry soos in 2018. Sy ken die vloer waar die teater is so goed soos die straat waarin haar ouma bly, die twee bykomende emosies met die herken daarvan is net totaal uiteenlopend,” skryf Karlien. 

Elah is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Karlien se ma en bestuurder, Ronel Brink, het by navraag gesê die familie wil geen kommentaar lewer oor Elah se huidige toestand nie. “Ons is net ongelooflik dankbaar dat sy by die huis kan wees,” sê Ronel aan Huisgenoot. 

Talle bekendes het kommentaar gelewer op Karlien se jongste inskrywing oor haar dogtertjie wat tuis is. 

“Dankie tog sy is by die huis! Ag, druk haar tog ’n bietjie stywer vas namens my seblief? Soveel liefde vir jou, Lien,” skryf Janine Hofmeyr. 

“Liefste pop! Ons is bitter dankbaar saam met julle! Liefde,” skryf die sangeres Caroline-Grace Brüssow. 

“Ag mamma! Wat ’n welcome. So bly en dankbaar saam met julle,” het die Springbok Franco Mostert se vrou, Juan-Ri, laat hoor.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

20 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees