Nou is Lupo, die swart cockerspanjoel wat aan die hertog en hertogin van Cambridge behoort het, dood. Die hartseer egpaar het die nuus Sondag in hul sosialemedia-bladsye bekendgemaak.
“Ons liewe hond, Lupo, is ongelukkig verlede naweek dood. Hy was die afgelope nege jaar die kern van ons gesin en ons sal hom baie mis,” skryf prins William en sy vrou, Kate, langs ’n foto van hul troeteldier. Kate se broer, James Middleton, ’n groot hondeliefhebber met sy eie spannetjie spanjoele, het ook ’n roerende huldeblyk gedeel.
“Niks kan jou op die verlies van ’n hond voorberei nie,” skryf hy.
“Vir dié wat nog nooit ’n hond gehad het nie, is dit dalk moeilik om die verlies te verstaan. Maar dié wat al ’n hond liefgehad het, weet die waarheid: ’n hond is nie net ’n troeteldier nie; hulle is ’n lid van die gesin, ’n beste vriend, ’n lojale metgesel, ’n onderwyser en ’n terapeut.”
Lupo is reeds in die letterkunde verewig. Hy was die onderwerp van ’n reeks kinderboeke deur die Britse skrywer Aby King oor – jy het reg geraai – die avonture van ’n koninklike hond.
Die ma en blogger het op Instagram haar meegevoel aan die Cambridges betuig.
“Ek is diep hartseer, want ek is so baie van my eie geluk aan hom verskuldig. Lupo het my geïnspireer om soveel avonture vir kinders te skryf. Danksy hom het ek ’n nuwe manier gevind om die bekoring van die koninklike paleise na kinders te bring. Hy leef in my boeke voort en toekomstige avonture sal ek saam met hom skryf. Wat ’n besonderse slim siel was hy nie – rus in vrede, liewe vriend, en dankie dat jy my lewe vir altyd verander het.”