Kim Kardashian se werknemers sleep haar hof toe

akkreditasie
Kim Kardashian.
Foto: Gallo Images/Getty Images
Kim Kardashian. Foto: Gallo Images/Getty Images
Kim Kardashian is bekend vir haar luukse leefstyl en die geld wat uit verskillende oorde instroom.

Alles is ’n geleentheid om meer geld te maak, van grimering en klere tot hul alledaagse lewe. Maar tuis kry haar werkers nie veel van daardie rykdom nie, beweer hulle. En nou word die werklikheidstelevisiester daaroor gedagvaar.

Die 40-jarige Keeping Up With The Kardashians-ster en entrepreneur, wat volgens Forbes R13,8 miljard sterk staan, betaal glo nie haar werknemers baie goed nie. 

Kim se instandhoudings- en skoonmaakspan pak haar nou in die hof nadat sy na bewering versuim het om hul lone te betaal, etenstye te gee en uitgawes te dek.

Volgens die Daily Mail dagvaar sewe van Kim se voormalige huiswerkers haar. 

Die sewe werkers het by haar huis ter waarde van R831 miljoen in Hidden Hills in Los Angeles as voltydse werknemers gewerk, maar TMZ berig hulle was soos onafhanklike kontrakteurs behandel en het nie voltydse werknemersvoordele ontvang nie.

Een klaer, wat net 16 jaar oud is, moes veel langer as die maksimum van 48 uur per week werk wanneer die skool gesluit was. En een van die tuiniers beweer hy was op die plek afgedank toe hy Kim nader om te praat oor oortyd, belasting en rustye.

Maar die ma van vier het aan TMZ gesê sy het ’n derdeparty vir voortdurende instandhoudings- en skoonmaakdienste aangestel. Daarom is sy nie bewus van die ooreenkoms tussen die agent en werkers nie. 

“Kim is nie verantwoordelik vir hoe die agent hul onderneming bestuur en die ooreenkomste wat hulle direk met hul personeel gemaak het nie,” het haar woordvoerder gesê. 

Die woordvoerder het bygevoeg: “Kim het nog nooit versuim om ’n agent vir hul dienste te betaal nie en hoop die kwessie tussen hierdie werkers en die agent wat hulle aangestel het, kan binnekort op vriendskaplike wyse uitgeklaar word.”

Die werkers beweer in dokumente hulle is nie op ’n gereelde grondslag betaal nie, het geen etens- en rustye gehad nie, is nie behoorlik vergoed vir uitgawes nie, het nie ’n stelsel gehad om hul ure aan te teken nie en was dus nie betaal vir al hul werkure, wat oortyd insluit, nie.

Die hofsaak kom minder as vier maande nadat Kim 'n skeisaak teen haar vervreemde man, die rapper Kanye West (43), aanhangig gemaak het. Die paartjie het in 2014 afgehaak.

Hulle het ingestem tot gedeelde toesig van hul vier kinders, North (7), Saint (5), Chicago (3) en Psalm (2).

Bronne: Daily Mail, TMZ, Forbes  
Jongste uitgawe

30 Junie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees