Die donkerkop kosfoendie Ilse Nel wat mense sal onthou vir haar deelname aan MasterChef SA, se lewensmaat, Antoine Minet-Gouffier, het haar in ’n kabelkarretjie bo Barcelona in Spanje gevra om te trou, en eers toe sy oor die aanvanklike skok kom, het sy ’n “ja” uitgekry.
“Antoine (38) is die man waaroor ek altyd gedroom het,” sê Ilse (43). “Hy is wat ek nog altyd van ’n man verwag en begeer het. Hy het al daardie eienskappe en nog tienduisend meer.”
Hulle was saam met hul twee seuntjies, Leo (3) en Luca (2), in Barcelona tydens die skoolvakansie en het ’n kasteel bo die stad besoek. Toe hulle in ’n kabelkarretjie afry met ’n uitsig oor die hele Barcelona het Antoine, wat ’n wynmaker is, gesê hulle moet ’n gesinsfoto neem. Toe sy weer sien, het hy op sy knie gegaan.