Die gelukwensinge het ingestroom nadat Reandi (30) op Instagram onthul het ’n "mini-Grey" is op pad. En nou is dit amptelik: Hulle verwag ’n dogtertjie, verklap sy aan Huisgenoot.
"Geseënd, geseënd, geseënd! Om te weet die Here vertrou ons om ouers te wees van een van sy kinders is die ongelooflikste eer, blydskap en verantwoordelikheid wat ons ooit sal hê. Ons is heeltyd aan die beplan en droom oor ons kleine geskenkie," vertel Reandi.
Die aktrise het in September uitgevind sy is swanger – en dit net 20 minute voor sy op stel moes gaan. "My gedagtes was orals behalwe op daardie stel, en dit het alles in my gevat om nie die hele tyd in trane uit te bars of aan die lag te gaan van opgewondenheid nie,” vertel Reandi, wat in die Laan ma speel vir ’n tienerseun, Thomas.