KYK: Als oor Mej. SA se top-10-finaliste – wie dink jy gaan wen?

akkreditasie
Die tyd het eindelik aangebreek om uit te vind wie vanjaar die Mej. Suid-Afrika-kroon gaan dra.

Die glansgeleentheid vind Saterdag by die Table Bay-hotel in Kaapstad plaas.   

Die top-drie-deelnemers sal die land oorsee by Mej. Heelal, Mej. Wêreld en Mej. Supranasionaal gaan verteenwoordig.

Hier is die 10 vroue wat dit sal uitspook om die uBuhle-kroon te dra. 

Aphelele Mbiyo (24) 

Aphelele kom oorspronklik van Port Elizabeth in die Oos-Kaap, maar woon tans in Lonehill in Johannesburg. Sy werk in die bemarkingsveld en doen ook deeltyds modelwerk.

Busisiwe Mmotla (27) 

Dié onderwyseres van Soweto het in 2017 die Mej. Soweto-kroon gedra. Sy is tans besig om te studeer vir ’n diploma in persoonlike afrigting. 

Chantelle Pretorius (24)

Chantelle kom van Tshwane in Gauteng en doen voltyds modelwerk. Sy is ook besig om ’n B.Com-graad in sakebestuur aan die Universiteit van Suid-Afrika te voltooi.

Jordan van der Vyver (25)

Dié Kapenaar is ’n internasionale model werk en woon gewoonlik die een helfte van die jaar in die Verenigde State van Amerika.

Karishma Ramdev (25)

Karishma kom van Chatsworth in KwaZulu-Natal en is ’n gekwalifiseerde mediese dokter by die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg. Karishma het tydens die covid-19-pandemie haar deel gedoen in die stryd teen dié virussiekte by die hospitaal. 

Lebogang Mahlangu (24)

Dié voedselwetenskaplike van Soshanguve in Gauteng is ook ’n sosiale entrepreneur en besit ’n gemeenskapsbakkery in Soshanguve. Sy het eens op ’n tyd gedroom daarvan om vir die Suid-Afrikaanse vrouesokkerspan te speel en het selfs provinsiale kleure in die sportsoort verwerf.  

Melissa Nayimuli (24) 

Die boorling van Butterworth in die Oos-Kaap woon in Sunninghill in Johannesburg. Sy het ’n BA-graad in die skryf van televisie-inhoud aan die Afda-filmskool behaal en werk tans vir ’n bemarkingsagentskap.

 

Natasha Joubert (23)

Natasha kom oorspronklik van Centurion in Gauteng en is ’n skakelbeampte by ’n prokureursfirma. Sy spog ook met ’n graad in bemarkingsbestuur van die Boston City Campus.

Thato Mosehle (25)

Dié boorling van Klerksdorp in Noord-Wes is ’n mediese dokter wat tans haar internskap voltooi. Haar doel is om eindelik ’n narkotiseur te word. 

Shudufhadzo Musida (23)

Shudufhadzo kom oorspronklik van Ha-Masia in Venda in die Limpopo-provinsie. Sy woon tans in Johannesburg waar sy besig is met haar BA-honneursgraad in internasionale betrekkinge aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Zozi maak 'n Kaapse draai

Intussen het die huidige Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, vandeesweek in Kaapstad aangekom om deel te wees van die beoordelaarspaneel van die Mej. SA-kompetisie. 

Zozi sluit haar aan by die die sakevrou Peggy-Sue Khumalo, wat self in 1996 die Mej. SA-kroon gedra het, die aktrise en sakevrou Leandie du Randt, die radio- en televisieaanbieder Anele Mdoda, asook die bekroonde aktrise Kim Engelbrecht wat ook onder die beoordelaars is.

Zozi en haar medebeoordelaars het hierdie week kiekies in die sosiale media gedeel terwyl hulle besig was met die vooraf-rondes van die kompetisie. Sy het Woensdag hierdie foto van haar in ’n treffende blou uitrusting op Instagram gedeel. 

“Eerste fase van Mej. SA se top-10-beoordeling kant en klaar,” het sy daarby laat hoor. 

Kim, wat al in TV-reekse soos The Flash en flieks soos Konfetti te sien was, het op haar beurt geskitter in ’n geel broekpak en op Instagram geskryf: “Julle meisies is beeldskoon, Suid-Afrika.”  

Die amptelike Instagram-profiel van die Mej. SA-organisasie het ook hierdie foto van Zozi en die huidige Mej. SA, Sasha-Lee Olivier, gedeel. Sasha-Lee, wat aanvanklik die naaswenner was, het die Mej. SA-titel oorgeneem nadat Zozi in Desember 2019 in Atlanta in Amerika as Mej. Heelal gekroon is. 

Die kroningsgeleentheid word Saterdag om 17:00 regstreeks op M-Net (DStv-kanaal 101) asook Mzansi Magic (DStv-kanaal 161) uitgesaai. 

Bronne: Instagram, misssa.co.za

Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees