KYK: Ashley Judd deel foto's van gru-val in die Kongo

akkreditasie
Die Amerikaanse aktrise Ashley Judd het Woensdag foto’s in die sosiale media gedeel van die uitmergelende 55 uur wat sy moes deurmaak nadat sy ’n grusame val in ’n woud in die Kongo gehad het.
Ashley Judd. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ashley Judd. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ashley (52) sterk tans aan in ’n hospitaal in Suid-Afrika nadat sy haar been in die Kongolese reënwoud gebreek het. As dit nie vir haar Kongolese redders was nie, sou sy haar been kon verloor het of gesterf het as gevolg van inwendige bloeding, onthul sy in haar inskrywing op haar Instagram-blad.

“Vriende. Sonder my Kongolese broers en susters sou die inwendige bloeding waarskynlik my dood veroorsaak het, en ek sou my been verloor het. Ek skrik wakker en huil van dankbaarheid, diep geraak deur elke persoon wat iets lewensreddend en geestelik genesend bygedra het tydens my angswekkende 55 uur lange tog,” skryf die Double Jeopardy-ster by verskeie foto’s wat in die tydperk geneem is.

Ashley was op ’n ekspedisie om bonobos, ’n spesie bedreigde sjimpansees, te soek toe sy haar been op vier plekke gebreek het.

In haar Instagram-inskrywing aan haar 466 000 volgelinge vertel die aktrise in meer besonderhede hoe sy uit die Kongo tot by ’n mediese sentrum in Suid-Afrika gebring is. Sy het ook dankie gesê aan elkeen wat haar bygestaan het. 

“Dieumerci het sy been uitgestrek en dit onder my vieslik misvormde been gesit om dit reguit te probeer hou. Dit was op vier plekke gebreek en het senuweeskade gehad. Dieumerci (‘Danksy God’) het vir vyf ure op die reënwoud se vloer bly sit, sonder om te beweeg of weg te skram. Hy was saam met my in my primitiewe pyn. Hy was my getuie,” skryf Ashley. 

“Papa Jean: Dit het vyf uur gevat, maar hy het my eindelik gevind, ellendig en wild op die grond, en het rustig na my been gekyk. Hy het vir my gesê wat hy moes doen. Ek het op ’n stok gebyt. Ek het vasgehou aan Maud. En Papa Jean het met sekerheid my been begin manipuleer en die gebreekte bene in ’n posisie gekry sodat ek vervoer kan word, als terwyl ek geskree en te kere gegaan het. Hoe hy dit so metodies gedoen het terwyl ek soos ’n dier aangegaan het, gaan my verstand te bowe. Hy het my gered en moes dit twee keer doen!”

Hy het my gebreekte been onder die hak vasgehou en ek het die versplinterde boonste gedeelte met my twee hande bymekaar gehou.

Hierna moes ses ander mans Ashley vir drie ure in ’n hangmat oor rowwe terrein dra. Sy het ook die mans bedank wat haar op ’n motorfiets vervoer het. 

“Didier en Maradona: Didier het die motorfiets bestuur. Ek het agtertoe gekyk, met my rug teen syne. Wanneer ek wou flou word en omval, het hy na my geroep om my posisie te verander en op hom te steun. Maradona het agter op die fiets gery en ek het na hom toe gekyk. Hy het my gebreekte been onder die hak vasgehou en ek het die versplinterde boonste gedeelte met my twee hande bymekaar gehou. Ons het dit saam gedoen vir ses ure lank op ’n ongelyke, uitgeryde, gaterige pad wat slote het vir reënwater gedurende die reënseisoen. 

“Maradona was die enigste een wat aangebied het om dit te doen. Ons het ’n wonderlike vriendskap, ons gesels oor die voor- en nadele van poligamie en monogamie. Ek wys twee foto’s, een in sy hoed en ’n ander in myne, wat hy baie graag wil hê!" skryf Ashley.

“Die vroue! My susters wat my vasgehou het. Hulle het my geseën,” het Ashley haar inskrywing afgesluit. 

Nadat hulle dit uit die woud gemaak het, is Ashley na Kinshasa gevlieg waar sy 24 uur lank gebly het. Daarna is sy na Suid-Afrika gevlieg vir behandeling in 'n intensiewe sorgeenheid. 

Die Hollywood-ster is ’n jarelange diere- en politieke aktivis en het vroeër ook ’n inskrywing gedeel waar sy die belangrikheid van filantropiese bystand vir die Kongo benadruk. 

“Bonobos maak saak. En so ook die mense in die voorouerlike reënwoud waar hulle woon en die ander 25,6 miljoen Kongolese wat humanitêre hulp nodig het,” het sy by ’n foto van een van die bedreigde sjimpansees geskryf. 

Bronne: Daily Mail, Sky News 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

26 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees