KYK: Diana se broerskind Kitty Spencer hou wittebrood in Italië

akkreditasie
Wyle prinses Diana se broerskind Lady Kitty Spencer (30) het ná haar spogtroue in Julie met die Suid-Afrikaans gebore miljardêr Michael Lewis (62) afgesit na onder meer Positano aan die Amalfi-kus in Italië vir hul wittebrood.

Kitty is Diana se broer, graaf Charles Spencer (57) en sy eksvrou Victoria Lockwood (55) se oudste kind.

Haar man, Michael, is meer as 30 jaar ouer as sy. Hy is hier in Kaapstad gebore en is die voorsitter van die Foschini Group en stigter van die Israeliese bio-tegnologiefirma ProChon Biotech Ltd. Kitty het ook in die Moederstad grootgeword. Dis ook daar waar Michael in 2019 vir haar die jawoord gevra het.

Die paartjie se trounaweek in Julie het begin met 'n dinee in die Galleria Del Cardinale, 'n geskiedkundige paleis in Rome, waarna die gaste na hul kamers in die vyfster Hotel de la Ville verkas het, waar kamers sowat R20 000 per nag kos.

Die bruilof self het in die Villa Aldobrandini, 'n 17de-eeuse villa in die groen heuwels buite die Italiaanse stad Frascati, plaasgevind. Onder die gaste was haar broer, Louis Spencer (27), haar halfbroer uit haar ma se tweede huwelik, Samuel Aitken (18), haar tweelingsusters, Eliza en Amelia Spencer (29), asook Michael se drie kinders uit sy vorige huwelik. 

Ander bekende gesigte op die gastelys was die Britse sangeres Pixie Lott, die akteur Idris Elba se vrou, Sabrina, en die Made in Chelsea-ster Mark Vandelli. 

Sedert haar troudag lyk dit of Kitty 'n rockster-lewe lei. Sy het ná haar spogtroue 'n warrelwind-vakansie in Italië geniet.

Kitty het 'n rits foto's van haar wittebrood in die sosiale media gedeel. In een kiekie in Positano aan die Amalfi-kus pryk sy in 'n moulose blombedrukte rok wat sy met pers sandale afrond. "Poskaarte van Positano," het sy daarby geskryf. 

Kitty het ook verskeie foto's van haar en haar gesin se idilliese vakansie op Instagram gedeel.

Op een foto kyk sy uit oor 'n balkon in Rome saam met haar tweelingsusters, Amelia en Eliza, terwyl al driepryk in knielengte rokke en plat skoene.

Sy het ook 'n foto van haar en haar jonger broer, Samuel, gedeel tydens 'n besoek aan 'n bistro in Milaan. "Saam in Milaan. Ek is lief vir my broer," het sy daarby geskryf.

Italië het 'n spesiale plekkie in Kitty se hart. Sy het drie jaar Italiaans en kuns in Florence studeer en is ook 'n model en ambassadeur van die Italiaanse modehuis Dolce & Gabbana. Sy het in Februarie 2017 haar loopplankdebuut vir dié einste modehuis in Milaan gemaak. Dolce & Gabbana het ook vir haar troudag verskeie rokke vir haar ontwerp.

Kitty, wat politiek, sielkunde en Engels aan die Universiteit van Kaapstad geswot het, het al vertel haar studentejare in Florence was die gelukkigste tyd van haar lewe. "Alles het so eenvoudig en sorgeloos gevoel, maar jy word steeds in 'n kultuurryke omgewing gestimuleer. Dit is net pure plesier om te leer en deur elke soort skoonheid omring te word,” het sy aan die Amerikaanse leefstyltydskrif Town & Country vertel. “As ek gelukkig is om te leef tot by die ouderdom van aftrede sal jy my in Florence vind."

Volgens die glanstydskrif People is Kitty deel van 'n rits bekendes wat Italië vanjaar besoek het. Hieronder was die model en Keeping Up With The Kardashians-ster Kendall Jenner, die sangeres Katy Perry en die aktrise Kate Hudson.

As wêreld-ambassadeur van Dolce & Gabbana was Kitty ook onlangs by 'n glanspartytjie in Venesië om die modehuis se nuwe "hoogmode juwelierswarereeks" Alta Gioielleria bekend te stel. Die werklikheidster en sakevrou Kris Jenner en die aktrise en sangeres Jennifer Lopez was ook onder die gaste.

In een foto van Kitty by die geleentheid sit sy langs Kris en haar kêrel, Corey Gamble. Sy pryk in 'n pienk bardot-snit rok en het 'n robynhangertjie wat skitter om haar nek. 

Kitty se man, Michael, wat verkies om uit die kollig te bly, het nie die geleentheid bygewoon nie. Die paartjie woon in 'n huis van R390 miljoen in Londen. En met 'n fortuin van R1,6 miljard agter sy naam kan Michael sy vrou natuurlik na hartelus bederf.

Maar Kitty se diepste wens is vir dinge wat nie gekoop kan word nie. "Ek sien uit na 'n gelukkige huislewe, 'n gelukkige huwelik en gelukkige kinders," het sy vroeër in 'n onderhoud gesê.

Bronne:People.com,Bazaar,Town&Country

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe



Jongste uitgawe

9 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees