KYK: Dit gons oor Mej. SA se Mej. Heelal-kostuum

akkreditasie
Mej. Suid-Afrika, Zozibini Tunzi, maak reg om aan die Mej. Heelal-kompetisie in Atlanta, Georgia, in Amerika te gaan deelneem. En sy het omtrent die tonge laat klap toe sy foto's van haar nasionale kostuum in die sosiale media gedeel het.

“Hier is sy!” het die beeldskone Zozi (26) by een van die kiekies geskryf. “Ek is trots om ’n golf van Suid-Afrikaanse liefde op die Mej. Heelal verhoog te dra.”

Die skepping, wat die Wave Of Love nasionale kostuum heet, is deur Lloyd Kandlin van The Costume Department in Kaapstad ontwerp, wat ook steek agter die protea-skepping wat Demi-Leigh Nel-Peters (24) in 2017 by die Mej. Heelal-kompetisie in Las Vegas gedra het. Sy het later met die kroon weggestap.

Op Zozi se nasionale kostuum pryk liefdesbriewe wat vir Suid-Afrikaanse vroue geskryf is.   

Talle mense het op Zozi se foto's gereageer. Die voormalige Mej. SA Tamaryn Green was een van hulle. “Dit is ongelooflik,” het Tamaryn laat hoor, wat verlede jaar as die naaswenner in die Mej. Heelal-kompetisie in Thailand aangewys is. 

Zozi het ook ’n foto van haar in ’n skepping deur die plaaslike ontwerpershuis Biji La Maison de Couture gedeel. Die aandrok is deur Suid-Afrikaanse minerale geïnspireer, het sy by die foto vertel. 

Zozi gaan die einste rok na Atlanta toe neem vir die Mej. Heelal-kompetisie op 9 Desember, het hulle op die Mej. Suid-Afrika Instagram-blad onthul. 

Net ’n dag vroeër het Zozi ook haar aanhangers op hol gehad toe sy ’n foto van haarself in ’n noupassende groen rok gedeel het.

“Ek staan op die skouers van reuse, die vroue wat voor my gekom het. Hulle het gehardloop sodat ek kon stap en ek is so trots om deel van ’n groep vroue te wees wat miljoene geïnspireer het, insluitend myself, om hul ware, opregte self te wees. Terloops, ek is seker julle onthou hierdie rok en die ongelooflike vrou wat dit gedra het! Hopelik het van die geluk van die rok op my afgevryf,” het Zozi by die foto geskryf.

Talle het die rok herken en laat hoor dat Demi-Leigh die einste rok in 2017 by die Mej. Heelal-kompetisie in Las Vegas gedra het. Sy is later as die wenner gekroon.

Ons hou duim vas dat Zozi dieselfde gaan doen! 

Jongste uitgawe

26 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees