
Sedertdien spog die paartjie omtrent met klein Cameron Ivan in die sosiale media.
Met akteurs vir ouers is dit geen wonder die mannetjie lyk alreeds gemaklik voor die kamera nie.
Ons loer na die oulikste foto’s wat die ouerpaar al van hul seuntjie gedeel het.
Met sy geboorte
Ivan het ook ’n 11-jarige dogter, Amélie, uit sy huwelik met die aktrise Ciske Kruger. Kort na Cameron gebore is, het Ivan twee skattige foto's van sy kinders as pasgeborenes op Instagram gedeel.
“Dis ’n onwerklike oomblik om ’n ouer van twee te word, ek kon eintlik voel hoe my hart vergroot het. Ek het nooit geweet ek kan so lief hê nie. Wat ’n eer om julle pa te wees,” het die trotse pa daarby geskryf.
Knus langs ousus
’n Paar weke later het Donnalee en Ivan albei hierdie oulike foto van Cameron en sy ousus, Amélie, gedeel.
“My klein liefie. Hoe gelukkig is jy om die gaafste, mensliewende mens ooit as jou ouer suster te hê. Jy weet dit nog nie, maar jy gaan baie lief wees vir haar. Sy gaan jou gunsteling wees, ek weet dit net,” skryf Donnalee.
Ma en pa se trots
In April het Donnalee en Ivan albei pragtige boodskappies aan mekaar gedeel met die skattigste foto’s van hulle saam met Cameron.
“Hei klein man," het Donnalee geskryf by 'n swart-en-wit foto van Cameron wat langs pa Ivan se arm lê en slaap. "Dis die man na wie jy gaan opkyk, maak nie saak hoe lank jy word nie . . . Hy gaan nie vir jou sê hoe om jou lewe te lei nie, want hy lewe op so ‘n wyse dat deur net na hom te kyk sal jy leer en groei om die gaafste, liefdevolste, wysste, avontuurlustigste, hardwerkendste en prettigste man, eggenoot, en pa te wees. En jy gaan op jou beurt weet wat dit beteken om nie te sê nie, maar ook om te wys . . . om werklik met opset te lewe,” skryf die aktrise.
’n Paar dae later het Ivan ook 'n foto van Donnalee en klein Cameron gedeel. Daarby skryf hy: "Ons is die gelukkigste mans op hierdie aarde. Hou styf vas, want hierdie asemrowende, beeldskone ma gaan jou op ’n onvergeetlike reis neem. Sy gaan jou als leer oor die liefde, en ek bedoel die regte soort liefde," skryf hy.
"'n Liefde vir mense, vir die lewe, vir avonture en 'n 'my hart het byna gaan staan’ soort liefde. Iets vir die kinders om in te glo, iets groters, iets van Bo."
"Sy is mal oor romanse en sy weet waarvan sy praat. Die sonsondergange, die lag uit jou maag-oomblikke, die detail wat ons almal so gereeld verbykyk. Geniet die rit, my seun, dit gaan onvergeetlik wees."
Donnalee se eerste Moedersdag
Op 10 Mei het Ivan sy vrou se eerste Moedersdag gevier deur 'n foto met sy Instagram-volgelinge te deel van Donnalee wat kort na Cameron se geboorte in haar hospitaalbed slaap met hul slapende babaseuntjie langs haar.
“Hy het vir die eerste keer gehuil en sy het hardop ‘oh wow’ gefluister. En daar was lewe en daar was liefde,” het Ivan se inskrywing begin.
“Die oomblik toe my vrou vir die eerste keer ons seun gesien het, was al wat sy kon uitkry ’n harde, emosionele, passievolle wow. Die eenvoud van daardie drie klein letters het vir ewig ons lewe verander. Eenvoudig, maar so gelaai met die waarheid.”
Glimlag vir die kamera!
“Wat noem jy ’n beer sonder tande? ’n ‘Gummy bear’. Ook basies die mooiste klein dingetjie wat sy mamma al ooit gesien het,” koer Donnalee by die foto van Cameron.
Dit blyk uit sosiale media dat Cameron beslis ’n gelukkige en vrolike baba is.
Kyk net hoe glimlag hy vir die kamera op hierdie foto wat Ivan in Mei gedeel het. "Elke dag is speeldag," het Ivan by die foto laat hoor.
Pappa se ewebeeld
Donnalee het onlangs hierdie foto van Cameron in ’n oulike truitjie gedeel.
“O vrek. Hierdie is next level cute,” het die voorkomskonsultant en stilis Donna Kennedy-Meyer by die foto laat hoor.
’n Paar dae later het pa Ivan ook sy eie weergawe gedeel, hierdie keer met ’n babafoto van homself uit 1985 langsaan.
Klein Cameron is uitgeknip sy pa, meen Ivan se Instagram-volgelinge. "Hy lyk soos sy pappa," het een laat hoor. "Hierdie man is sy pa se ewebeeld," meen nog een van Ivan se volgelinge.
Uitstappies saam met mamma
Donnalee het op die eerste dag van vlak 3 van die inperking ’n foto van ’n glimlaggende Cameron gedeel om te wys hoe opgewonde die kleinman is om nou "langer stappies" te kan vat.
Klein Cameron verskaf vir haar en Ivan baie vreugde, het Donnalee voorheen aan SARIE.com vertel.
“Ek kan nie vir jou sê hoeveel vreugde hy ons verskaf nie. Hy het ’n ongelooflike diep kyk. Maar as hy glimlag, voel dit vir my asof hy iets binne sy siel vir my wys. Daar is ’n helderheid en vreugde wat hy met ons deel,” het sy vertel.
Ekstra bron: SARIE.com