Kyk hoe pryk Faf de Klerk op Twickenham: 'Ek voel baie bevoorreg'

akkreditasie
Faf is bekend vir sy breë glimlag en vonkel in die oog. Foto: Misha Jordaan
Faf is bekend vir sy breë glimlag en vonkel in die oog. Foto: Misha Jordaan
Die veld by die Twickenham-stadion is vandeesweek in ’n indrukwekkende portret van drie Premierliga-rugbysterre verander.

Dié rugbykuns, die grootste buitemuurse skildery wat nog ooit in Engeland geskep is, is onthul om die afskop van die Gallagher Premierligarugby op Vrydag 14 Augustus te vier wanneer die Harlequins teen die Sale Sharks net 200 meter vandaar te staan kom.

Die kunswerk van die Harlequins-speler Joe Marler, Saracens se Maro Itoje en Sale Sharks se Rugbywêreldbeker-wenner Faf de Klerk het agt kunstenaars meer as 24 uur geneem om te voltooi en meer as 100 uur se beplanning voor die gras geverf is. Daar is ’n rekenaarprogram geskryf om die presiese afmetings te genereer wat nodig sou wees om die kunswerk volgens die presiese skaal van die stadion te skep.

Die beeld, wat die grootste deel van die veld van 7 000 m² beslaan, is geskep met ’n rooster wat uit 13 420 elemente bestaan. Elke geverfde lyn in die portret is net ses duim wyd. Sowat 1 280 L se bio-afbreekbare verf is gebruik.

’n Geraamde 150 000 passasiers gaan die kunswerk vanuit die lug kan geniet op vlugte wat in en uit Londen se Heathrow-lughawe beweeg.

Die kunswerk van die Harlequins-speler Joe Marler,
Die kunswerk van die Harlequins-speler Joe Marler, Saracens se Maro Itoje en Sale Sharks se Rugbywêreldbeker-wener Faf de Klerk het agt kunstenaars meer as 24 uur geneem om te voltooi. Foto: Magazine Features

Faf de Klerk is een van die rugbysterre in die portret. Dié Sale Sharks-speler het gesê: “Ek het nie besef dit gaan op die veld wees nie, ek het gedink dit gaan ’n foto iewers of op die grootskerm wees. Dit lyk baie koel. Daar is baie goeie spelers in die premierliga en dit is wonderlik. Ek voel baie bevoorreg en geëerd.”

Faf van naderby. Foto: Magazine Features
Faf van naderby. Foto: Magazine Features

Die Saracens-speler Maro Itoje het oor die impak van die inperking op die sport gepraat: “Die afgelope paar maande was swaar op aanhangers en spelers, maar ons is terug en reg vir die begin van die seisoen. Die afgelope vyf maande het vir ons gewys hoe belangrik die sport is en wat dit na mense se lewens bring.”

Die Britse kunstenaar John Lundberg, wat toesig gehou het oor die projek, sê: “Ek noem wat ek doen konsepsuele kuns. Wanneer jy die kunswerk van naby beskou, kan jy nie regtig uitmaak wat dit is nie, maar wanneer jy vanaf ’n uitkykpunt kyk, vorm dit ’n geheel en die volledige prentjie.

“Dis ’n ongelooflike eer om hierdie kunswerk te skep om die terugkeer van rugby te vier. Dit was ’n moeilike tyd vir sport en talle ander industrieë, en dis lekker om deel te wees van die sport terugbring na die mense wat lief is daarvoor.”

Die skildery in wording. Foto: Magazine Features
Die skildery in wording. Foto: Magazine Features

Hommeltuig-tegnologie is gebruik om die finale beeld van die rugbysterre vas te vang, waarvan twee in die openingswedstryd uitdraf.

Joe Marler en die res van die Harlequins-span kom teen Faf de Klerk se Sale Sharks te staan. Premierliga Rugby moes die reuse-uitdaging oorkom van ’n fisieke kontaksport weer aan die gang kry en daar is nou saamgewerk met die owerhede en mediese spanne om ’n veilige terugkeer na oefensessies te verseker.

’n Volledige stel Gallagher Premierliga rugbywedstryde word hierdie naweek gespeel en nog 51 wedstryde sal in die volgende 10 weke gespeel word voor die eindstryd op 24 Oktober.

“Ons is opgewonde om die Gallagher Premierliga rugbyseisoen weer af te skop, en dit was ’n reusepoging om hierdie punt te bereik,” het Darren Childs, uitvoerende hoof van Premierliga Rugby, gesê.

“Die portret op die veld is ’n ongelooflike manier om die begin van die Gallagher Premierliga Rugbyseisoen te begin en aanhangers te laat weet rugby is terug op ons skerms. Ons gaan nie ons oog van die bal haal wat die veiligheid betref in die stryd teen covid-19 nie, en alle voorsorgmaatreëls word getref om spelers in staat te stel om terug te keer na dit wat hulle liefhet – om rugby te speel.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

2 Junie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees