KYK: Kourtney Kardashian haak vir 3de keer af met Travis Barker in spogtroue in Italië

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kourtney Kardashian en Travis Barker het gister vir ’n derde keer in twee maande getrou – en dié keer het hulle ’n glansryke Italiaanse bruilof gehad waar al hul naaste vriende en familie teenwoordig was.

Die eerste seremonie was aan die begin van April toe hulle ná die Grammy-prysaand ’n “oefentroue” in Las Vegas gehad het. ’n Maand later het hulle die huwelik amptelik gemaak en die troudokumente in ’n hof in Santa Barbara onderteken. 

Nie een van Kourtney se beroemde susters of haar ma was by dié geleenthede teenwoordig nie.

Die 43-jarige ster van die werklikheidsreeks Keeping Up with the Kardashians en die Blink-182-rocker (46) het die naweek trou aan mekaar beloof in ’n glansryke bruilof by L’Ulivetta – die modeontwerpers Domenico Dolce en Stefano Gabbana se spoglandgoed in Portofino, Italië. Domenico en Stefano is die stigters van die luukse Italiaanse modehuis Dolce & Gabbana.

Die landgoed is met honderde rooi rose, goue kandelare, rame en kerse omskep in ’n sprokiestroue wat deur bekendes soos die aktrise Megan Fox en haar verloofde, die rapper Machine Gun Kelly, bygewoon is.

Die bruid het ’n kort wit kantrok met ’n korset en lang sleep gedra waarop daar ’n beeld van moeder Maria gepryk het. By die simbool van moeder Maria staan die woorde “familie, lojaliteit, respek”.

Die rok is deur Dolce & Gabbana ontwerp en volgens dié Italiaanse mode-ontwerpers se Instagram-blad is die moeder Maria-beeld geïnspireer deur een van Travis se tattoes. 

Kourtney het haar trourok met wit kanthandskoene en bypassende hoëhakskoene afgerond. Travis se swart pak was afgerond met ’n swart strikdas, wit hemp, en ’n goue kruisie onder sy strikdas.

Dolce & Gabbana het volgens Daily Mail ’n jarelange vriendskap met die Kardashians, en die modehuis het saam met die familie aan die troureëlings gewerk en baie van die gaste se uitrustings geborg. Kourtney se jongste suster, Kylie Jenner (24), is oor die trounaweek ook in van hul skeppings gewaar.

Kourtney het op haar groot dag op die maat van “Ave Maria” in die paadjie afgestap na die kansel met haar emosionele ma, Kris Jenner, aan haar sy. 

Kris was ook in ’n skepping van Dolce & Gabbana opgetof.

Kourtney en haar ekskêrel, Scott Disick (38), se negejarige dogter, Penelope, was haar blommemeisie. Die ekse het ook twee seuns, Mason (12) en Reign (7). Haar strooimeisies was haar nuwe stiefdogters, Alabama Barker (16) en Atiana De La Hoya (23). 

Penelope het ’n grys rok met pofmoue en rooi papawerblomme gedra en Alabama en Atiana het noupassende kantrokke in dieselfde kleur aangehad.


As deel van die Kardashians se vennootskap met Dolce & Gabbana het hulle die gaste met bote vervoer tussen hulle verblyf en die Dolce & Gabbana-landgoed langs die Italiaanse Riviera. Kourtney en Travis het ook die naweek op Domenico en Stefano se jag op die Italiaanse Riviera gebly.

Die onthaal was by ’n Castello Brown, ’n Middeleeuse kasteel wat deesdae ’n museum is. Die paartjie het die kasteel eksklusief gehuur vir hul trounaweek, berig Daily Mail.

En as ’n mens so die foto’s en video’s kyk wat sedertdien op sosiale media gedeel is, het die spul hul gate uit geniet. 

“Magiese aand in Portofino,” het Kris op Instagram laat hoor.

Bronne: dailymail.co.uk, geo.tv, hollywoodlife.com, hellomagazine.com, mirror.co.uk, thenews.com.pk

Jongste uitgawe

7 Julie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees