KYK: Malala Yousafzai deel troufoto's

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Nobelpryswenner Malala Yousafzai het bekendgemaak dat sy Dinsdag getroud is.
Malala Yousafzai is Dinsdag getroud. Foto: Gallo I
Malala Yousafzai is Dinsdag getroud. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy is dikwels in die nuus as uitgesproke aktivis vir vroue se reg tot opvoeding, maar Malala (24) het vroeër die week haar eie stukkie goeie nuus met die wêreld gedeel.

“Vandag is ’n kosbare dag in my lewe. Ek en Asser het in die huwelik getree om vir die res van ons lewe maats te wees. Ons het dit met ’n klein nikkah-seremonie tuis in Birmingham gevier. Stuur asseblief vir ons jul gebede. Ons is opgewonde om die pad saam te stap,” het sy in ’n twiet met foto's daarby gedeel. 

Dit is nie bekend wanneer sy en haar nuwe man, Asser Malik, se verhouding begin het nie. Asser is die bedryfsbestuurder van die Pakistanse Krieketraad. Malala het in 2020 ’n B.A.-graad in politiek, filosofie en ekonomie aan die Universiteit van Oxford behaal.

Malala, wat in Pakistan gebore is, het in 2009 onder ’n skuilnaam vir die BBC begin skryf oor haar ervaring van lewe onder beheer van die terreurgroep bekend as die Taliban. Sy is in 2012 saam met twee ander meisies deur die Taliban geskiet nadat sy teen hul reëls voortgegaan het met haar skoolloopbaan.

Malala en haar ouers, Ziauddin en Toor, asook haar broers, Khushal en Atal, het in 2013 na Birmingham in Engeland verhuis. Sy het in 2014 die jongste ontvanger van die Nobelprys vir Vrede geword en beywer haar steeds om vir alle meisies skoolopvoeding te bewerkstellig.

Malala het in 2014 die jongste ontvanger van die Nobelprys vir Vrede geword en beywer haar steeds om vir alle meisies skoolopvoeding te bewerkstellig.

Malala se pa, Ziauddin, het vroeër vanjaar vertel dat hy sou toelaat dat sy haar eie lewensmaat kies. Sy huwelik met Toor is deur hul families gereël, maar hy het al voorheen in onderhoude vertel dat hulle tog mettertyd op mekaar verlief geraak het.

Die Yousafzai-gesin is deel van die Pashtun-gemeenskap, wat streng tradisionele en patriargale waardes het. Ziauddin het egter aan Daily Mail vertel dat Malala onafhanklik is en hy nie haar wense sou teenstaan nie. 

“Ek sal gemaklik wees met enigiemand waarmee sy gelukkig is. 

“Die enigste ding wat ek vra, is dat sy iemand kies wat haar waardes, haar vryheid en haar onafhanklikheid respekteer. Sy sal beter kan oordeel as ek, ek vertrou haar wysheid,” het hy destyds vertel. 

Gelukwensings vir die nuwe egpaar het van reg oor die wêreld ingestroom. 

“Geluk,” het die Britse skrywer en rolprentmaker Jemima Goldsmith laat hoor. Jemima was voorheen met premier van Pakistan, Imran Khan, getroud. Imran was ook een van die land se uitblinkers op die krieketveld. 

Uit Amerika het Chelsea Clinton, die dogter van oudpres. Bill Clinton en sy vrou, Hillary, geskryf: “Geluk Malala en Asser!”

Die Kanadese premier, Justin Trudeau, het Malala namens hom en sy vrou, Sophie, gelukgewens.

“Geluk, Malala en Asser. Ek en Sophie hoop dat julle jul spesiale dag geniet het – ons wens julle ’n leeftyd van geluk saam toe,” het hy geskryf. 

“Die grootste gelukwensing aan albei van julle. Wat ’n gelukkige man. Seënwense vir ’n leeftyd van liefde wat jou siel sal verryk,” het die joernalis Elaine Welteroth geskryf.

Bronne: Daily Mail, The Guardian, Twitter 

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees