Leandie du Randt praat openhartig oor ma se dood; egskeiding

akkreditasie
Leandie du Randt. Foto: Skermskoot uit die video
Leandie du Randt. Foto: Skermskoot uit die video
Sy moes al meer as net ’n handjievol keer op stormwaters vaar, maar op 31 jaar oud weet die aktrise Leandie du Randt wat werklik heel maak: dankbaarheid.

Die aktrise, veral bekend om haar rol in die kykNET-sepie Getroud met Rugby en vir flieks soos Jagveld en Die Windpomp, het onlangs in ’n openhartige video vir die skoonheidsreus Revlon gepraat oor die seer van haar ma, Elmarie, se dood in Mei 2014; die gebrokenheid wat ’n egskeiding veroorsaak en hoe sy geleer het om terugslae en beproewinge te oorkom.

Alzheimersiekte is in 2007 – in Leandie se eerste jaar as Bcom-student aan die Universiteit van Johannesburg – by Elmarie gediagnoseer. Sy het sewe jaar aan die siekte gely voor haar dood in 2014. Sy was 58 jaar oud.

“Dit voel of ek werklik leef wanneer ek my motiveringswerk doen. Dit voel asof . . .” sê Leandie en raak aangedaan.

“Dit voel asof al die seer waardeur jy in jou lewe is, betekenis het. Want dis so moeilik om deur moeilike dinge in die lewe te gaan as jy dit nie dadelik in die oomblik verstaan nie.”

Elmarie se Alzheimer-stryd was met haar diagnose in 2007 nog in die beginstadium, maar sy het vinnig agteruitgegaan.

Haar siektestryd was vir Leandie en haar predikantpa, Neels, traumaties en ’n baie seer ervaring.

“Ek moes toekyk terwyl sy ’n mens geword het wat ons nie geken het nie. Jy leer soveel van jou self soos jy daardeur gaan: jy leer oor hoe dankbaar jy moet wees vir jou geheue; vir jou gesondheid. En dat as jy gesond is, jy die rykste mens op aarde is. Dit het my familie so sterk gemaak.”

Die aktrise het ook haar onlangse egskeiding van die akteur Bouwer Bosch bestempel as iets waaroor sy nie “sommer sal kom nie”.

Die akteurspaar het op 1 Maart aangekondig hulle paaie skei. Hulle het op 28 November 2015 in Potchefstroom getrou. 

Leandie
Foto: Mandy Stander

Met die aankondiging het Leandie nog gesê: “Ná ’n ongelooflike paar jaar saam het ek en Bouwer uit ons liefde vir mekaar besluit dat ons beter maats as huweliksmaats vir mekaar is. Die besluit is gegrond op ons liefde vir mekaar.”

Vandag sê Leandie die skrywer Rhonda Byrne se boek “The Magic” het “haar lewe verander” – en haar gehelp om hierdie seer te verwerk.

“(Die boek) leer jou hoe belangrik dit is om dankbaar te wees; en hoe dankbaarheid letterlik jou lewe kan verander. Dit kan jou gesond maak van al die negatiewe ervarings wat jy in jou lewe het.  Dit was my saving grace – en dis hoe ek my ma se dood verwerk. Ek dink nie jy sal werklik daarvan genees nie. 

Oor wat sy ná haar egskeiding geleer het, sê die aktrise: “Jy moet jouself herdefinieer na hierdie [slegte] ding wat met jou gebeur het. En jy moet seker maak dat jy nie dít word nie; dat die slegte ding nie jou identiteit word nie.”

Leandie du Randt Bosch en manlief Bouwer Bosch.
Leandie du Randt en Bouwer Bosch in gelukkiger tye. Foto: Instagram

Deesdae fokus sy al meer op dankbaarheid omdat dít is wat haar nog al die jare heel gemaak het, verduidelik die aktrise. 

Sy vertel hoe sy ’n spesifieke toneel in ’n sepie onthou wat sy en haar ma nog in haar grootwordjare saamgekyk het.  

“En twintig jaar later het ek ’n toneel met daardie selfde aktrise gehad. Dis surrealisties,” vertel sy. 

“Op stel sê ek altyd vir myself: Leandie, onthou jy toe hierdie alles eens wou hê? Onthou jy dit? Want jy moet dit nooit vergeet nie – sodat jy nie ’n diva word nie; of te cool word nie, en net dankbaar bly.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.

Jongste uitgawe

19 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees