Sy was net ’n 18-jarige blinkoogtiener toe haar pad die eerste keer met dié van die bekende sanger Emo Adams gekruis het. Dit was in die Baxterteater in Kaapstad. Hy was in die verhoogproduksie District Six: The Musical en sy was in ’n vertoning in die kleiner Sanlamteater op die boonste verdieping.
“Ek was op pad teater toe, toe kom Emo met die trappies af. Ek was star struck, want ek het gedink hy was ongelooflik in die musical District Six. En daar staan hy, en toe sê ek dit vir hom,” onthou Tarryn Lamb.
Vandag, 17 jaar later, is dié sangeres met die engelstem nes Emo een van die groot name op ons verhoë en sit sy boonop saam met hom in die aanbiederstoel van sy talentsoekreeks, Maak my famous, op kykNET en kykNET & kie wat nou in sy tweede seisoen is.