Maak toe, Madge! Aanhangers onbeïndruk met Madonna se gewaagde Instagram-plasing

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Nog ’n dag, nog ’n gewaagde foto van Madonna wat op die internet die rondes doen.

Die popkoningin het ’n reeks foto’s op Instagram gedeel waarop sy skraps geklee is en haar tepel en boude ontbloot. En terwyl aanhangers haar gewoonlik loof dat sy die grense verskuif, meen hulle die 63-jarige het dalk dié keer te ver gegaan. 

“Dit raak eintlik nou ’n verleentheid,” lewer ’n gebruiker kommentaar.

“Jou kinders moet so trots wees op jou. Hou op om jou agterstewe te wys.” Die aanhanger voeg by dat hoewel die “Medellín”-sangeres dapper was om haar fotoboek, Sex, in 1992 te publiseer, is haar huidige gedrag “net klasloos”.

Nog een het raad vir die sangeres: “Pleks van hierdie belaglike foto’s neem, maak ’n bietjie gehaltemusiek soos jy altyd het.” 

Op van die foto’s lê die ma van ses op die vloer met haar bolyf onder ’n bed. Haar bene, in visnetkouse geklee, is uitgestrek terwyl sy haar boude ontbloot. Op nog ’n foto bedek die sewemalige Grammy-wenner haar tepel met ’n rooi hart-emoji terwyl sy haar bors ontbloot.

“Engel hou oor my wag,” skryf sy by die plasing.

Maar Instagram was nié met Madonna se kiekies tevrede nie en het haar foto’s verwyder omdat sy hul reëls rondom naaktheid verbreek het. En kort daarna het Madonna wéér haar naakfoto’s gedeel, maar hierdie keer net haar nodige liggaamsdele met emotikons toegemaak. 

Sy het daarna haar mond oor Instagram uitgespoel. “Ek laai nou weer hierdie foto’s wat Instagram sonder waarskuwing verwyder het. Hulle het aan my span, wat nie eens my Instagram bestuur nie, gesê hulle het die foto’s verwyder omdat ’n klein deel van my tepel uitgesteek het.”

En Madonna het nie daar gestop nie. Sy meen dit is verstommend dat ons in ’n kultuur lewe waar elke deel van ’n vrou se liggaam behalwe haar tepel ten toon gestel mag word, sê sy.

“Asof dit die enigste deel van die vroulike anatomie is wat geseksualiseer kan word. Die tepel wat babas voed!”

Instagram is nie die enigstes wie se wenkbroue gelig het nie. Baie mense het met Madonna se eksplisiete foto’s gespot, onder andere die aktrise Kate Beckinsale.

Kate (48) het een van die foto’s aan haar dogter, Lily Sheen, gestuur, wie se pa die akteur Michael Sheen (52) is, met die byskrif: “Dink jy dit is te veel dat ek dit geplaas het? Die ding is, my boude lyk goed.”

Waarop Lily geantwoord het: “Ek moet sê ek is ’n bietjie verward. Ek dink wel dit is ’n bietjie te veel, maar dit is ook kunstig.”

Toe Kate later vir Lily sê sy maak ’n grap en die foto is eintlik van Madonna, was die 22-jarige verlig. “Ek moes regtig gaan sit om dit te hanteer,” sê Lily, ook ’n aktrise, vir haar ma.

“My kollega het kom vra of ek ’n blaaskans vat.” Nadat Kate gespot het sy huil van die lag ná haar dogter se reaksie, het Lily gesê sy huil “trane van blydskap”. 

“Ek sou bekommerd gewees het as jy dit geplaas het,” sê sy. Maar Madge se oudste sal waarskynlik nie oor haar ma se gedrag besorg wees nie.

Lourdes Leon (24) het self al met gewaagde foto’s die kwik laat styg. Vroeër vanjaar het die model verskeie intieme foto’s van haar gedeel wat in die bed geneem is. Toe Instagram die foto’s verwyder oor dit hul riglyne verbreek, het Lourdes een van die foto’s weer geplaas.

Dit lyk of die appel nie ver van die boom geval het nie. 

Bronne: hellomagazine.com, mirror.co.uk, dailymail.co.uk 

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!


Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees