Hy het ’n moeilike tyd agter die rug – en dit wýs. Die maerheid van sy arms en sy los jeans verklap hoeveel gewig hy weens sy lang gesondheidstryd verloor het. Hy is nog ietwat bleek en onvas op sy voete.
Dis al byna ’n jaar sedert Manuel Escórcio, ’n diabeet, skielik so siek geword het dat hy in die hospitaal beland het. Toe reeds het hy aan Huisgenoot vertel hy het 20 kg verloor. Tog was die sanger hoopvol dat hy gou weer sy ou self sou wees.
Maar onlangs het hy nóg ’n groot terugslag beleef, vertel die man met die goue tenoorstem vandag hier by ’n lewenslange vriend se huis in Kaapstad. “Dit was ernstig. My liggaam het begin afskakel . . . ek was amper, amper daarmee heen,” vertel Manuel (73).