’n Dag ná sy vierde ronde chemoterapie het Mark (52) uit sy huis in Johannesburg vir ons gesê skanderings toon die gewasse in sy longe is besig om te krimp. “Jy hoop op twee dinge: Een, ’n krimping, of nommer twee, dat daar nie meer groei van die bestaande gewasse of nuwes is nie. Ek is geseënd dat daar nie nuwes is nie en dat die bestaande gewasse almal op die behandeling gereageer het,” sê Mark.
“Dit is merkwaardig wat in drie maande gebeur het, want ek gebruik verskeie terapieë, en al die verskillende dokters is bewus van mekaar en al die terapieë vul mekaar aan.
Watter van die behandelings wat ek kry, is die doeltreffendste? Ons weet nie, maar die eindresultaat is wat jy wil hê.”