Hy was een van die onvergeetlike gesigte langs die veld toe die Springbokke die Engelse Rose in die Wêreldbekerrugbytoernooi in Japan in die stof laat byt het. Groot van postuur en gees het die assistentafrigter, Matt Proudfoot, ’n onontbeerlike rol in die oorwinning daar in die Verre Ooste gespeel.
Dit is vandag vier jaar later. Hy is steeds die sesvoetreus met ’n passie vir rugby, maar Matt (51) se wêreld lyk anders.
Ná drie jaar as afrigter vir die Engelse span is hy terug in Suid-Afrika, maar waar hy voorheen saam met sy vrou, Vanes-Mari du Toit (33), in ’n huis gewoon het, is hy nou alleen en woon hy in ’n gastehuis.