Medici raai koningin Elizabeth aan om reis na Noord-Ierland te kanselleer

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Koningin Elizabeth is ’n sterk vrou met ’n rooster wat mense heelwat jonger as sy sou onderkry. Maar op 95 moet selfs die koningin soms ’n blaaskans vat.
Koningin Elizabeth.
Koningin Elizabeth. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ná ’n uitmergelende paar dae se verpligtinge, waaronder dié as gasvrou by ’n groot wêreldbeleggingsberaad by Windsorkasteel, het die koningin se mediese personeel haar aangeraai om ’n blaaskans te neem en ’n besoek van twee dae aan Noord-Ierland te kanselleer. 

“Die koningin het die mediese raad aanvaar om vir die volgende paar dae te rus,” het ’n verklaring deur die paleis gelui. “Dit gaan goed met haar en sy is teleurgesteld dat sy nie meer Noord-Ierland kan besoek waar sy ’n reeks verpligtinge gehad het nie.”

Die koningin, wat vandeesmaand op twee geleenthede met ’n kierie gewaar is, sal na verwagting nog geleenthede vir die Cop26-klimaatsveranderingkonferensie aan die einde van die maand bywoon. Dit word in Glasgow gehou.

Dis maklik om jou die koningin se teleurstelling voor te stel – sy het haar immers nog nooit aan ouderdom gesteur nie. 

The Oldie, ’n lighartige Britse tydskrif vir bejaardes, het onlangs vertel hulle het haar kantoor gevra of sy die Oldie of the Year-prys sou aanvaar. Sy het dit geweier. 

Haar assistent-privaatsekretaris, Tom Laing-Baker, het in ’n brief aan die tydskrif geantwoord: Die koningin glo jy is so oud soos jy voel, en daarom glo sy nie sy voldoen aan die relevante kriteria om dit te aanvaar nie, en sy hoop julle sal ’n meer waardige ontvanger vind.”

Die Oldie of the Year-toekennings word jaarliks uitgedeel om die prestasies te vier van bejaardes wat ’n spesiale bydrae tot die openbare lewe gelewer het. 

Die tydskrif het geglo die koningin, wat volgende jaar haar platinumjubileum vier, is die perfekte ontvanger. Gyles Brandreth, voorsitter van die toekennings, het ná die afkeuring gesê: “Dalk sal ons in die toekoms weer die koningin nader.”

Haar houding teenoor die toekenning is in sterk kontras met haar wyle man, die hertog van Edinburgh, wat in 2011 die Oldie of the Year was toe hy sy 90ste verjaarsdag gevier het. 

“Daar is niks beters vir die gemoed nie as die herinnering dat, soos die jare ál gouer verbygaan, die ou liggaam se tyd uitloop,” het prins Philip in sy brief geskerts. “Maar dis lekker om enigsins onthou te word.”

Die koningin se skoondogter, Camilla, hertogin van Cornwall, het die geleentheid Dinsdag bygewoon en pryse uitgedeel soos die Oldie Champion Knitter of the Year en Truly Scrumptious Oldie of the Year.

Camilla het gepraat oor die voordele van ouer word en gesê dis ’n hoogtepunt “om jou kinders te sien grootword; jou kleinkinders te geniet – met die wete dat hulle weer huis toe gaan; tyd te vind om te lees; tyd te vind om The Oldie te lees – en om jolige middagetes soos hierdie een by te woon”.

Bronne: BBC.com, theguardian.com, people.com, the oldie.co.uk 

Teken hier in vir ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees