book-icon Uitgawe 12 Desember 2019

Mej. SA se Sasha-Lee: My stryd met seksuele misbruik

akkreditasie
Sasha-Lee Olivier gaan Suid-Afrika binnekort in die Mej. Wê­reld-kompetisie in Londen verteenwoordig. 
Foto: Lubabalo Lesolle
Sasha-Lee Olivier gaan Suid-Afrika binnekort in die Mej. Wê­reld-kompetisie in Londen verteenwoordig. Foto: Lubabalo Lesolle
Wanneer sy binnekort vir Suid-Afrika aan Mej. Wêreld deelneem, wil Sasha-Lee seksuele mishandeling aanroer – iets wat sy sélf beleef het.

Sy was sewe jaar oud toe dit begin het, en dit het vier jaar lank aangehou. In haar binneste het sy geweet dit was nie haar skuld nie, maar sy het haarself nogtans baie jare lank blameer en haar geheim dig gehou. Niemand anders moes weet sy is as kind seksueel mishandel nie.

Haar selfbeeld het in dié jare ’n kwaai knou gekry en sy het met depressie geworstel – maar toe sy eindelik besluit tot hiertoe en nie verder nie, het dit alles verander.

Om op te staan en vir die land te vertel sy is ’n oorlewende van seksuele mishandeling is die heel belangrikste ding wat sy al in haar lewe gedoen het, sê Sasha-Lee Olivier, vanjaar se naaswenner in die Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie.

Sasha-Lee
Sasha-Lee in vanjaar se Mej. Suid-Afrika-­kompetisie. Sy was die naaswenner. Foto: Lubabalo Lesolle

Ten aanskoue van duisende kykers wat voor hul televisie vasgenael gesit het, het sy op die kroningsaand op 9 Augustus aangekondig sy begin ’n nuwe projek om oorlewendes soos sy by te staan.

Haar veldtog, Beauty with a Purpose, wat onlangs bekendgestel is, sal die aandag vestig op die lot van vroue en meisies wat seksueel mishandel is, en Sasha-Lee sal ook ’n kampvegter vir dié saak wees wanneer sy vandeesmaand in Londen aan die Mej. Wêreld-kompetisie deelneem.

As naaswenner sal sy Suid-Afrika op 14 Desember in dié kompetisie verteenwoordig omdat vanjaar se Mej. Suid-Afrika, Zozibini Tunzi, op 9 Desember aan die Mej. Heelal-kompetisie in Amerika deelneem.

Ons ontmoet Sasha-Lee kort voor haar vertrek na Londen in Zozibini se woonstel in Central Square, Sandton. “Dit het nog nie ingesink nie,” sê sy oor die vooruitsig van haar deelname op die wêreldverhoog.

“Dat ek die hele land sal verteenwoordig, is nogal skrikwekkend, maar dis so opwindend in die lig van die saak waarvoor ek my beywer.”

Of sy nou die Mej. Wêreld-kroon huis toe bring of nie, sy sal seker maak haar stem word gehoor. “Dit gaan nie oor individuele erkenning nie; dit gaan oor die kans om die saak te dien waarin jy glo en dit te bevorder.”

Sasha-Lee het bemarking en sielkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer, maar nog altyd daarvan gedroom om op die wêreldverhoog ’n indruk te maak. “En noudat dit gebeur, weet ek steeds nie hoe om dit te verwerk nie,” sê sy. “Ek bedoel, is dit normaal?”

Sy besef sy het ’n groot verantwoordelikheid as iemand wat graag oorlewendes van seksuele geweld wil help.

“Ek verstaan waarvoor ek veg,” sê sy. Sy het eers twee jaar gelede die moed bymekaargeskraap om ’n saak teen haar mishandelaar te maak toe sy besef sy kan nie standpunt inneem en ’n kampvegter vir vrouebemagtiging wees as sy self in vrees leef nie.

“Toe vind ’n ander reis van heling plaas,” vertel sy. Die doel van haar veldtog is om die stilte te verbreek en die skaamte en vrees te beëindig waarmee slagoffers dikwels gelaat word.

“Ek moes ’n voorbeeld stel en die gesprek begin. Ek moet my gedurig weer daartoe verbind om my storie te vertel, want dis nie altyd maklik nie. Die geestesgesondheidskwessies en die gevolge van trauma is werklik.

“Ek moes teen angs en depressie stry, maar die droom om eendag ander te help het my deurgedra.”

Sy wil nie oor die besonderhede van haar mishandeling praat of enigiets oor haar mishandelaar sê nie. Sy wil ook nie uitwei oor die vordering van die saak wat sy teen hom gemaak het nie.

“Dit moenie oor hom wees nie,” sê sy. “Dit moet oor die oorlewende gaan.” Die deeltydse model sê sy het bemagtig gevoel toe sy die saak aanhangig maak en voel nou toegerus om die internasionale verhoog te betree.

“En wanneer iemand na my uitreik en vra hoe ek dit oorkom het omdat hulle sukkel, sê ek vir hulle ek verwerk dit steeds. Dis ’n voortdurende ding.”

In Sasha-Lee se veldtog sal ook troospakkies aan oorlewendes van seksuele aanranding versprei word. Die pakkies bevat onder meer toiletware, ’n teddiebeer, soetgoed en ’n kaartjie met hul naam op wat hulle verseker die aanval is nie hul skuld nie.

Voor sy vir vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie ingeskryf het, was Sasha-Lee ’n gewone jong vrou wat graag in ’n sweetpakbroek en gemaklike ou hemp videospeletjies gespeel het.

Maar sy het besluit om haar vir die skoonheidskompetisie in te skryf omdat sy so sterk gevoel het oor die bemagtigingsaak waaragter sy haar gewig wil gooi. Sy het geweet die platform sou dié werk “versterk”.

Haar ma, Blanche (49), ’n enkelma, was vierkant agter haar.

“Sy is my grootste ondersteuner, en toe dit vir my moeilik was om oor die mishandeling te praat, het sy my aan my doelwit herinner.

“Sy het ’n deurslaggewende rol daarin gespeel dat ek na vore gekom en my storie vertel het, want sy was die eerste mens vir wie ek jare gelede van my mishandeling vertel het.”

Sasha-Lee is ook na aan haar jonger susters, Savannah (23) en Maxine (12), en haar vierjarige susterskind, Alexis, die klein oogappel “wat met alles wegkom”.

“Ek het nooit gedink ek sal so toegeeflik teenoor iemand wees nie, maar dié een kry altyd wat sy wil hê!” Dit was ’n waterskeidingsjaar vir die boorling van Alberton, maar sy moes ook struikelblokke oorkom.

Die Mej. Suid-Afrika-organiseerders het deurgeloop nadat Sasha-Lee en ’n ander deelnemer as “plusgrootte” beskryf is toe hulle die top-16 haal.

‘Voorheen is ons groottes nie gevier nie, en dis nie hoe dit behoort te wees nie’

Sasha-Lee is ook aangevat omdat sy glo haarself as “plusgrootte” beskryf het – party kritici het gemeen dit ondermyn die saak van liggaamspositiwiteit.

Maar sy sê: “Die etiket is aan my toegedig. Ek het nie self gesê ek was plusgrootte nie.” Plusgrootte is ’n modelterm, sê sy. “Enige klerenommer groter as 34 word as plusgrootte beskryf, en ek is ’n nommer 36.

Maar ons moet almal liggaamspositief wees, en dís die boodskap wat ek wil uitstuur. “Voorheen is ons groottes nie gevier nie, en dis nie hoe dit veronderstel is om te wees nie.”

Sy het nie altyd haar kurwes omhels nie, voeg sy by – as sy het, sou sy lank gelede modelwerk begin doen het. “Ek het baie verwerping ervaar. Dit was altyd: ‘Nee, ons wil hê jy moet eers ’n bietjie gewig afskud.’ ”

Om te hoor sy is te groot het net haar selfbeeldprobleme vererger en party mense het haar selfs gekritiseer oor die besluit om vir Mej. Suid-Afrika in te skryf.

“Jy gaan aan jouself twyfel. Baie vroue kan daarby aanklank vind, want ons voel altyd ons is nie goed genoeg nie,” sê sy.

“Maar nou weet ek wie ek is.” Sasha-Lee werk deeltyds as ’n assistent-onderwyseres by I Am, ’n skool in Alberton vir kinders op die outismespektrum. “Ek is dol oor Maandae,” sê sy stralend.

“Ek is ’n onderwyseres in murg en been.” Sy droom daarvan om eendag haar eie skole te ontwikkel en die kinders in haar sorg te leer dat oomblikke van teenspoed nie bepaal wie jy is nie.

“Hoewel ek moeilike tye in my verlede moes deurmaak, het dit my by hierdie punt in my lewe help uitkom.”

Sy vertel sy het baie van haar drome bereik en kan nie wag om eendag nes te skop en met ’n gesin te begin nie. Sy wil graag kinders van haar eie hê om te koester, te leer en aan te moedig. Maar nou geniet sy eers elke geskenk wat die lewe oor haar pad bring.

“Ek is baie gelukkig, en dís omdat ek in die oomblik teenwoordig is. Vir die eerste keer in my lewe voel dit of ek my doel uitleef.” 

Jongste uitgawe

30 Junie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees