Op ’n ongerepte strand waar dit lyk of die sandkorrels ’n skakering van pienk is, het hulle ewige trou aan mekaar beloof – ’n silwerkopbruidegom en sy bruid, op 50 nog net so beeldskoon as toe sy amper 30 jaar gelede as Mej. Suid-Afrika gekroon is.
Daar ver op Pink Beach op Nieu-Seeland se Noordeiland het Suzette van der Merwe asemrowend gelyk in ’n vloeiende ontwerperskepping in dieselfde helderpienk as die bougainvilleas by haar ouerhuis op Stilbaai in die Wes-Kaap.
Pienk is ook die kleur van die hemp wat haar bruidegom, Mark Weston (56), gedra het toe sy dié gebore Nieu-Seelander ses jaar gelede op ’n toe-oë-afspraak in Johannesburg ontmoet het. Suzette onthou nog goed hoe dié kleur sy vriendelike blou oë beklemtoon het.
“Daar is baie pienk in ons storie,” vertel die twee byna uit een mond in ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot kort voor hul troudag verlede maand.
Suzette en Mark, ’n uitvoerende beampte in die bankwese in Johannesburg, het besluit om stil-stil op ’n geheime bestemming in Mark se geboorteland te trou.
Net twee gaste, Mark se pa, Wayne (78), en stiefma, Angela Jennings Weston (79), was by die intieme seremonie op die strand en was ook hul getuies.