Nadia woon al byna ’n jaar lank in Mexiko. Haar Mexikaanse kêrel, wat net bekend is as Héctor, is die hoofrede hoekom sy gekies het om Suid-Afrika te verlaat en haar in Mexiko te vestig, want sy wou baie graag hul verhouding ’n kans gee. Nou gaan hulle ouers word.
Nadia het die swangerskapnuus op Instagram gedeel. “Ons is swanger en kan nie wag om ons baba in Feb 2023 te verwelkom nie,” skryf sy by ’n foto van haar en Héctor waar sy ’n ultraklankfoto vashou.
Sy en haar kêrel het al oor kinders gesels, maar toe sy begin simptome toon, het sy nie gedink sy is swanger nie, vertel Nadia al die pad uit Mexiko aan Huisgenoot.