‘Ons is geseënd’: Cristiano Ronaldo en meisie Georgina Rodriguez verwag 2de tweeling

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pas ná sy skitterende terugkeer na Manchester United het die sokkerspeler Cristiano Ronaldo nog ’n rede om fees te vier.
Georgina Rodriguez en Cristiano Ronaldo.
Georgina Rodriguez en Cristiano Ronaldo. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die 36-jarige sokkerster is op koers om sy eie klein sokkerspan te hê – hy en sy lewensmaat, Georgina Rodríguez, verwag ’n tweeling. 

Hy het ’n foto op Instagram gedeel waarop hy en Georgina (27) – wat blykbaar drie maande swanger is – ’n skandering van hul tweeling vashou. 

“Verheug om aan te kondig ons verwag ’n tweeling. Ons harte is vol liefde – ons kan nie wag om julle te ontmoet nie #blessed,” skryf hy by die foto.

Die nuwe toevoegings sal nie net die vyfde en sesde kinders wees wat by die atleet se gesin aansluit nie; hulle is ook sy tweede tweeling. 

Die Portugese boorling het in 2010 die eerste keer pa geword toe hy sy oudste seun, Cristiano jr., via ’n surrogaat verwelkom het. Sy seun (11) is in San Diego gebore terwyl Cristiano met die model Irina Shayk uitgegaan het.

“Met die instemming van die ma, wat anoniem wil bly, sal ek alleentoesig oor my seun hê,” het hy destyds op sosiale media bekendgemaak.

Selfs toe dit oor die ma se identiteit en die toesigreëling gegons het, het die enigmatiese atleet stilgebly. 

“Mense bespiegel ek was by hierdie of daardie meisie, of daar was ’n surrogaatma. Ek het niemand ooit vertel nie en sal ook nie,” het hy vir die geselsprogramaanbieder Jonathan Ross gesê.

“Wanneer Cristiano (jr.) grootword, sal ek hom die waarheid vertel, want hy verdien dit. Nie omdat ander mense wil hê ek moet dit doen nie.”

Cristianinho, soos sy oudste met liefde genoem word, is byna altyd aan sy pa se sy. Hy ontvang dikwels pryse saam met sy beroemde pa of speel ’n hoofrol in advertensies vir sy CR7-klerereeks.

In Junie 2017 het die sokkerster ’n tweeling, Eva en Mateo Ronaldo, verwelkom. Soos hul ouer broer is die tweeling (nou vier) in San Diego gebore.

Die ma van die tweeling is ook nie geïdentifiseer nie en daar is wyd berig sy was ook ’n surrogaat. Net ’n maand later het Cristiano aangekondig sy meisie, Georgina, verwag sy vierde kind.

Sy het in November 2017 aan hul eerste kind saam, ’n dogter, Alana (nou drie), die lewe geskenk.

Hy was in die wolke oor die vierde toevoeging tot sy gesin.

“Pa-wees is ’n unieke en persoonlike reis, iets wat my heeltemal verander het,” het hy toe gesê.

“Dit het my dinge oor die liefde geleer waarvan ek nooit geweet het nie. Dit het my saggemaak en my ’n ander uitkyk gegee op wat werklik in my lewe belangrik is.

“Pa-wees en om my gesin te sien groei is sonder twyfel die grootste voorreg wat ek nog gehad het. Om saam met hulle tyd deur te bring, aan hul sy te wees, saam met hulle te glimlag en te lag. Hulle het baie geluk en vreugde na my lewe gebring.” 

Maar ten spyte van die ongewone gesinsituasie lyk dit asof almal baie goed oor die weg kom en Georgina deel gereeld oulike foto’s van die skattige spruite. 

Die twee het dalk nog nie voor die kansel gestaan nie, maar dit lyk asof die ster in Georgina ’n permanente ma vir sy kinders gevind het.

Hulle het mekaar op ’n Dolce & Gabbana-geleentheid in Madrid ontmoet en hul name is in November 2016 die eerste keer met mekaar verbind toe hulle by Disneyland Paris saam opgemerk is. 

Gerugte van ’n verlowing loop sedert verlede jaar vandat die model gereeld met haar indrukwekkende Cartier-diamantring spog. Dit is vermoedelik ’n aardige R14 miljoen werd. 

As die knewel van 'n ring ’n aanduiding is, lyk dit asof die twee hulle verbind het om op die outydse manier ’n gesin op te bou. Maar presies hoeveel kinders hulle nog sal kry, hang dalk van die oudste lid van hul kroos af. 

“Hy wil nog broers en susters hê, sê Cristiano aan die Portugese koerant Correio da Manha.

“Hy wil sewe hê, die towersyfer – en ek dink dit is goed.”

Bronne: dailymail.co.uk, mirror.co.uk, nypost.com, hellomagazine.com, cnn.com, nowtolove.com.au, hola.com, eonline.com

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!


Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees