Toe die foon daardie dag lui en die nuus by hom insink, het hy nie ’n oomblik gehuiwer nie. Sy pa het laat weet: “Jou ma is siek.”
Ricky Schroeder (32) het op die plek besluit om sy sakke te pak. Terug uit Gqeberha, waar hy nog vir die Southern Kings-rugbyspan as skrumskakel uitgedraf het, reguit Kaap toe om aan sy ma, Rika (toe 54), se sy te wees en die res van sy familie in dié moeilike tyd by te staan.
Rika het destyds in 2017 ’n groot hartoperasie ondergaan, en daar was ’n kans dat sy dit nie sou oorleef nie. Sy het wonderbaarlik herstel, maar kort daarna ’n terugslag gehad en in 2018 is sy oorlede.
As hy nou terugkyk, is Ricky bly hy het besluit om voor die operasie terug te keer huis toe; na sy mense toe. “Ek kry sommer hoendervel as ek nou daaraan dink, sê Ricky, ’n boorling van Worcester. “My familie was altyd daar vir my en het my altyd in my loopbaan ondersteun. Daar was nie ’n manier dat ek nie sou terugkom nie.”
Rika se dood was boonop die tweede groot verlies wat hy, sy pa, Derrick (58), en jonger broer, Clyde (26), moes verwerk. Agt jaar tevore is Ricky se suster, Charelle, op 17 weens nierversaking oorlede. Hy was toe in matriek aan Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch.
Op 18 het hy ’n beroepsrugbyspeler geword en later vir die Goue Leeus uitgedraf. “Die groot uitdaging het gekom toe ek hier in die Kaap was en my ma gesterf het. Ek het gewonder wat nou met my lewe moet gebeur. Wat gaan ek nou doen, want wie is Rick sonder rugby?” vertel hy.
Daar was twee klubrugbykontrakte in sy naam, een in Frankryk en een in Italië, maar dit was nie vir hom ’n opsie om sy gesin weer te verlaat nie. “My ma was ’n go-getter en my sussie ook. Hulle het nie opgegee nie, so wie is ek om op te gee ná ’n loopbaanverandering?” sê hy.
Vandag pluk hy die vrugte van daardie besluit en is hy besig om naam te maak in die vermaakbedryf. Hy is tans die aanbieder van ’n nuwe vermaak- en speletjiesprogram op kykNET & kie, Jol met Ricky.
En, sê dié buksie, die adrenalieninspuiting van dié werk is net so groot soos dié van sy vorige beroep.