Prins Andrew se eksvrou, Fergie, se pad as ouma

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sarah Ferguson is dol daaroor om ’n ouma te wees.

Tydens ’n onderhoud met OK! vertel die hertogin van York en eksvrou van prins Andrew hoe trots sy op haar dogters, prinses Eugenie en prinses Beatrice, is dat hulle “hul eie loopbaan uitkerf” en siektes trotseer. 

Die 62-jarige Fergie loof hulle ook as uitstekende ma’s. Eugenie (32) en haar man, Jack Brooksbank (36), het in Februarie verlede jaar hul seun, August Philip Hawke, ook bekend as Augie, gehad. 

Eugenie se ousus, Beatrice (33), en haar man, Edoardo Mapelli Mozzi (38), se dogter, Sienna Elizabeth, is sewe maande later gebore. Fergie sê al haar kleinkinders, ook Beatrice se stiefseun, Christopher Woolf (6), is ’n “pragtige seën” in haar lewe.

“Ek dink as ’n grootouer moet jy jou kinders toelaat om die ouers te wees wat hulle wil wees en nie te veel inmeng nie,” sê sy. Maar al laat sy haar dogters se ouerskapspligte aan hulle oor, sê Sarah haar kleinkinders slaap dikwels by haar huis oor.

Sy lees ook baie vir die kinders en die stemme waarin sy vir hulle voorlees, laat die eenjarige Augie skaterlag, vertel sy aan die tydskrif. Die hertogin is nog nie seker of sy wil hê die kleingoed moet haar "granny" of "nanny" noem nie, maar sy is tevrede om dit aan hulle oor te laat, sê sy. In ’n ander onderhoud met Metro vertel Fergie sy speel graag saam met haar kleinkinders.

“August is ’n regte seuntjie en ek speel saam met hom met vragmotors. Maar as hy in die toekoms verkies om met Barbiepoppe te speel, is dit ook in die haak.”

Verlede jaar ná Augie se geboorte het sy gesê dit is ’n eer om ’n ouma te wees. “As grootouers is ek en die hertog verheug en geseën oor die koms van ons kleinseun, August Philip Hawke Brooksbank,” skryf sy op Instagram.

“Hy is ’n pragtige seën en besorg ons hele familie soveel liefde en vreugde. Ek is baie trots op Jack en Eugenie. Hulle is en sal wonderlike ouers wees."

Buiten ’n toegewyde ouma is Fergie ook ’n skrywer. Haar geskiedkundige roman, Her Heart for a Compass, is in Augustus verlede jaar in hardeband uitgereik en is nou ook in sagteband beskikbaar.

Sy het in ’n onderhoud gesê die boek is deur die dood van haar ma in 1988 geïnspireer en verken die verskeie gevolge van geslagtelike trauma. 

“Ek het altyd gevoel ek word beoordeel. Daarom ondersteun ek die LGBTQ+-gemeenskap. Ek weet hoe dit is om uitgeskuif te word. Ek is nou 62 en dit maak nou nog seer wanneer iemand my kritiseer.”

In die boek roer sy ook die uitwerking aan van met ’n eetsteurig grootword. “Ek het my aan kos vergryp. Ek sou nooit kon bulimie kry nie, want ek het net nie die geestesgesteldheid gehad om so ver te gaan nie. Maar ek het altyd gewens ek kon,” het Sarah aan die ayurvediese dokter en naturopaat dr. Vijay Murthy in sy podsending gesê.

“Maar dit wys jou net op watter gevaarlike plek ek gekom het. Om te wens jy kon ’n geestessiekte tot daardie vlak hê, is ’n baie ernstige plek om te wees.”

Bronne: OK!, Metro, Mirror, Hello

  • Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by ‘Huisgenoot’ se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.  
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!  


Jongste uitgawe

7 Julie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees