Prins Harry se dogtertjie, Lilibet, vier 1ste verjaardag – maar waar is William?

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Prins Harry en sy vrou, Meghan, het 'n nuwe foto van hul dogtertjie, Lilibet, uitgereik om haar eerste verjaardag te vier. Die kleinding is ook 'n rooikop nes Harry en haar ouboet, Archie (3), en is uitgeknip haar pa.

Harry (37) en Meghan (40) het vanaf hul tuiste in Montecito in Kalifornië gereis om sy ouma, koningin Elizabeth (96), se platinumjubileumvieringe in Engeland by te woon.

Hulle het toe sommer die geleentheid gebruik om hul jongste spruit, wat na die koningin vernoem is, se eerste verjaardag op 4 Junie in haar pa se geboorteland te vier.

prins harry
Prins Harry as 'n baba. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die egpaar het glo 'n agterplaas-piekniek vir familie en hegte vriende gehou in 'n tuin op die gronde van hul vorige tuiste, Frogmore Cottage, by Windsorkasteel.

Daar was 'n verjaardagkoek, ballonne, speletjies en peuselhappies.

Die hertog en hertogin van Sussex het toe 'n foto van hul dogtertjie uitgereik om haar verjaardag te vier. Klein Lili het ook vir die eerste keer die koningin ontmoet, maar volgens die Daily Mail is Harry en Meghan se fotograafvriend wat Lilibet se verjaardagfoto geneem het, glo verbied om die kleinding se eerste ontmoeting met die Britse monarg af te neem.

Koningin Elizabeth vier vanjaar haar 70ste jaar op die troon. Die afgelope naweek is verskeie geleenthede gehou om die mylpaal te vier.

Die langsregerende monarg in die Britse geskiedenis het egter baie van die verrigtinge weens “ongemak” misgeloop. Die jubileumviering was die eerste keer wat Harry en Meghan weer skouers met die koninklike familie in die publiek geskuur het ná hulle 'n onthullende onderhoud aan die kletskoningin Oprah Winfrey toegestaan het. 

Harry en Meghan het nie teruggehou nie en ’n paar klappe na die paleis gemik, insluitend dat een van die koninklikes hul kommer uitgespreek het oor hoe Harry en Meghan se kinders sal lyk. 

THE HAGUE, NETHERLANDS - APRIL 17: Prince Harry, D
Prins Harry en sy vrou, Meghan. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die Sussexe is ook Vrydag tydens ’n dankseggingsdiens vir die koningin weggehou van Harry se ouer broer, prins William (39), en sy pa, prins Charles (73). 

Dit het die twee egter nie gekeer om Lili se verjaardag in Engeland te vier nie. 

Die fotograaf Misan Harriman, wat bevriend is met die Sussexe, het ’n foto van Lili op sy Instagramprofiel gedeel. 

In dié foto sit die rooikop-dogtertjie in 'n ligblou rokkie en met 'n wit strikkie in haar hare op die gras.

Hy het ook 'n foto van Meghan gedeel wat Lili vashou binne Frogmore – die huis waarin sy en Harry gewoon het voor hulle Amerika toe verhuis het. Meghan en Lili het poseer saam met Misan se vrou, die bankier en entrepreneur Camilla Holmstroem, en hul twee dogters.   

LONDON, ENGLAND - JUNE 03: Prince Harry, Duke of S
Prins Harry en Meghan het skouers met die koninklikes geskuur. Foto: Getty Images/Gallo Images

Net familie en hegte vriende het Lili se eerste verjaardagpartytjie bygewoon, verklap ’n woordvoerder vir Harry en Meghan. Dit is as ’n “intieme” viering beskryf.  

Hoewel die gastelys nie bekend gemaak is nie, beweer die skindertonge Harry se niggie Zara Phillips en haar man, Mike Tindall, was onder die gaste, so ook hul kleingoed, Mia (8), Lena (3) en Lucas (1). 

Zara se broer, Peter Phillips, sy eksvrou, Autumn Kelly, en hul dogters, Savannah (11) en Isla (10), het ook die partytjie bygewoon.

zara phillips
Prins Harry, Meghan, Zara Phillips en Peter Phillips. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die egpaar se eersteling, Archie, se peetpa, Charlie van Straubenzee, en sy broer, Tom, wat William se dogtertjie, prinses Charlotte (7), se peetpa is, is ook genooi. 

Geen melding is gemaak of William en Kate en hul kroos ook by die partytjie was nie. 

Volgens die Daily Mail het die koningin Donderdag of Vrydag haar naamgenoot ontmoet. 

LONDON, ENGLAND - JUNE 03: Prince William and Cath
Prins William en sy vrou, Kate. Foto: Getty Images/Gallo Images

Misan sê dit was ’n voorreg en eer om Lilibet se eerste verjaardag saam met Harry, Meghan en sy eie familie te kon vier. 

Lili se verjaardag was omtrent spesiaal. Claire Ptak, wat in 2018 Harry en Meghan se troukoek gebak het, het ook hul dogtertjie se eerste verjaardagkoek gebak.

Onder Lili se verjaardaggeskenke was onder meer 'n pastelpienk VW Beetle-karretjie en van die Sussexe se ondersteuners het geld aan liefdadigheid geskenk in eer van hul dogtertjie se verjaardag.

Volgens ’n woordvoerder van Harry en Meghan is $100 000 ingesamel wat geskenk is aan die World Central Kitchen, 'n organisasie wat maaltye aan mense verskaf wat deur natuurlike rampe getref is.

Bronne: Daily Mail, BBC, The Guardian, Express, Twitter, Instagram

  • Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by Huisgenoot se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.  
Teken hier vir ons nuusbriewe in:

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in 

Jongste uitgawe

11 Augustus 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees
Huisgenoot Eisteddfod

Wys jou talent en kry meestersklasse by bekendes!

Huisgenoot Eisteddfod
Is jou kind talentvol en lief vir die kunste? Skryf nou in vir Huisgenoot se splinternuwe aanlyn nasionale kunsfees.
Skryf nou in