Prinses Anne se vreemde piesang-eetgewoonte

akkreditasie
’n Mens sou dink die Britse koninklike familie eet die varsste kos op die elegantste wyse moontlik, maar ’n voormalige koninklike sjef het die aap uit die mou gelaat oor van hul eetgewoontes.
Prinses Anne.
Prinses Anne. Foto: Gallo Images/Getty Images

Koningin Elizabeth (95) se voormalige sjef Darren McGrady het in ’n onderhoud met die Amerikaanse ontbytprogram Today verklap haar dogter, prinses Anne (70), hou daarvan om oorryp piesangs te eet. 

“Prinses Anne verkies amper altyd dat die piesangs amper swart – oorryp – moet wees, want dit verteer beter,” sê hy.

Darren sê die piesang se punte word eers afgesny en dan word die piesang middeldeur gesny om geskil te word. Die skil word oopgemaak en die piesang word met ’n vurk geëet. 

Darren, wat vanaf 1982 tot 1993 in die Buckinghampaleis se kombuis gewerk het, het ook ander besonderhede oor die koninklike familie se eetgewoontes gedeel. By ’n koninklike banket word vrugte gewoonlik ná die nagereg voorgesit, maar jy mag nie met jou hande daaraan raak nie. 

“Die gaste het gekry ’n dessertmes en -vurk, ’n klein bordjie en ’n vingerbakkie met water – wat sommige gaste al gedrink het,” sê Darren. 

Darren, wat ’n spysenieringsonderneming in Texas in Amerika besit, het in ’n vorige onderhoud met die tydskrif Marie Claire gesê koningin Elizabeth weier om eiers met ’n wit dop te eet – net dié met ’n bruin dop is voldoende. 

“Ontbyt vir Haar Majesteit was eenvoudig. ’n Bietjie Kellogg’s ontbytkos uit ’n plastiekhouer, wat sy self opskep. En Darjeeling-tee. Knoffel was taboe op die koningin se tafel. Sy het die reuk en smaak verpes.”

Darren het ook vertel die koningin se wyle man, prins Philip, wat verlede maand op 99 oorlede is, het nie gehou van die organiese pakkies wat hul oudste seun, prins Charles, dikwels as geskenke gekry het nie. 

“Ons het altyd ’n pakkie van Harrods ontvang – ’n dankie-sê geskenk omdat ons daar inkopies gedoen het. Prins Philip het in die kombuis gekom en daar was twee pakkies.

“Hy het gesê: ‘O, is dit ’n Harrods-pakkie?’ En ek het geantwoord: ‘Nee, U Hoogheid, dis ’n pakkie wat die prins van Wallis saamgebring het.’

“Hy het dronkgeslaan gelyk en ek het dit oopgemaak en gesê: ‘Dis alles organies’ waarop hy geantwoord het, ‘Ag, vervlakste organies!’ en toe net sy kop geskud en uitgestap.”

Die koninklike kenner Jeremy Paxman het ook vertel oor die toekomstige koning se eetgewoontes en gesê Charles (72) is puntenerig oor hoe sy eiers gekook moet word. 

“Omdat die personeel nooit seker was of die eier presies die regte hardheid gehad het nie, is ’n hele spul eiers gekook en in volgorde in ’n ry gepak,” sê Jeremy. 

“As die prins gevoel het nommer vyf is te loperig, sou hy nommer ses of sewe ooptik.” 

Duidelik nie ’n man wat al sy eiers onder een hen sit nie. 

Bronne: Today, Bristol Post, 7 News, Mirror 

Jongste uitgawe

20 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees