Sy is eindelik weer tuis; eindelik weer by haar kinders. Ná meer as ses moeilike maande in Suid-Afrika en vier lang – en meestal stil – maande in ’n kliniek in Europa, is prinses Charlene van Monaco weer onder haar eie dak.
Die 44-jarige prinses het onlangs sonder veel bohaai na die prinsdom teruggekeer om met haar man, prins Albert, en hul sewejarige tweeling, Jacques en Gabriella, te herenig.
Sy kon verlede jaar maande lank weens gesondheidsprobleme nie van Suid-Afrika na Monaco terugkeer nie en is toe ná ’n “ingryping” deur haar naastes in ’n kliniek opgeneem om aan te sterk.