Privaat ondersoeker vra verskoning dat hy prins Harry se eks se foon gekraak het

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Privaat ondersoeker het erken hy was in die vroeë 2000’s deel van ’n “genadelose mediakultuur” wat prins Harry van ’n normale lewe “beroof” het.

Op die omstrede nuwe BBC-dokumenêr The Princes and the Press sê Gavin Burrows hy was “deel van ’n groep mense” wat die hertog van Sussex meedoënloos vir koerantstories agtervolg het. 

In sy pogings om stories oor Harry te kry, het Burrows die koninklike se gewese meisie, Chelsy Davy, geteiken. Harry het van 2005 tot 2011 aan en af met haar uitgegaan.

“Daar het baie stemposkrakery aangegaan. Daar was baie waarnemingswerk op haar fone, op haar kommunikasie. Chelsy sou by haar vriende spog wanneer sy hom sou sien,” sê hy. 

Chelsy Davy.
Chelsy Davy. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy erken hy het in Chelsy se mediese rekords gegrawe om uit te vind of sy enige seksueel oordraagbare siektes of aborsies gehad het. Hy sê hy is nou “baie jammer” en is destyds deur “hebsug en dwelms” aangedryf. 

“Ek het kokaïen gebruik en in ’n valse staat van vernaamheid geleef”. Hy beskryf die koerantkultuur in daardie tyd as “genadeloos”.

Hy sê redakteurs het die rooikop-koninklike selfs die “nuwe Diana” genoem ná die dood van sy ma, prinses Diana, in 1997 nadat die paparazzi haar gedurig agtervolg het.

Burrows sê toe hy in 2000 vir die eertydse skinderkoerant News of the World begin werk het, was daar baie meer belangstelling in Harry as in sy broer.

Prins Harry.
Prins Harry. Foto: Gallo Images/Getty Images

Redakteurs het vir hom gesê verkope is beter as hulle vir Harry op die vooblad sit as vir William. “Soos ’n paar redakteurs aan my verduidelik het, Harry het basies die nuwe Diana geword.”

Die dokumentêr, waarvan die eerste deel vroeër vandeesweek op BBC uitgesaai is, verken die krapperige verhouding tussen William, Harry en die Britse pers. William, die koningin en sy pa, prins Charles, veroordeel die dokkie oor die “opgeblase en ongegronde bewerings”.

Hulle kritiseer die nasionale uitsaaikorporasie daarvoor dat hy ondanks versoeke geweier het om dit eers vir die koninklike familie te wys.  

Hulle dreig om die BBC oor toekomstige projekte te boikot. En dit lyk of dit reeds ontvou, want William en sy vrou, die hertogin van Cambridge, het die BBC blykbaar verbied om hul Kersliedere-konsert uit te saai. 

Pleks daarvan sal die geleentheid op Brittanje se ITV vertoon word. Dit word gehou om geld vir liefdadigheid in te samel en word by die Westminster-abdy deur die hertogin aangebied. 

Bronne: people.com, mirror.co.uk, news.com.au

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

20 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees