Dit was al ná middernag, seker omstreeks halftwee, toe die luitoon van haar selfoon haar uit ’n diep slaap laat ontwaak. Aan die anderkant van die lyn was die hospitaal, die boodskap was dringend: “Mevrou, kom so gou moontlik hospitaal toe.”
Sy het uit die bed gespring en haar na die Life Groenkloof-hospitaal in Pretoria gehaas, onthou Unita Conradie vandag. Maar sy was te laat: Haar man, die radiolegende Theo Conradie, het reeds gesterf.
“Ek kon dit nie verstaan nie,” sê ’n emosionele Unita vandag, net twee dae ná Theo se dood. “Dit was ’n enorme skok; amper asof dit nie eens die werklikheid was nie.”