SA in rep en roer oor ons nuwe Mej. Heelal, Zozibini Tunzi: ‘Ek’t gewéét sy gaan wen’

akkreditasie
Mej. Suid-Afrika, Zozibini Tunzi, is onlangs aangewys as Mej. Heelal. Foto's: Instagram/@official_misssa en @missuniverse
Mej. Suid-Afrika, Zozibini Tunzi, is onlangs aangewys as Mej. Heelal. Foto's: Instagram/@official_misssa en @missuniverse
Die beeldskone Mej. Suid-Afrika, Zozibini Tunzi (26), is vanoggend gekroon as Mej. Heelal in Atlanta, Georgia in Amerika. Die gelukwensings het sedertdien ingestroom vir die skoonheidskoningin van Sidwadweni in die Oos-Kaap.

Zozibini het kort voor haar vertrek na die Mej. Heelal-kompetisie aan Huisgenoot gesê sy wil op die Mej. Heelal-verhoog stereotipes oor skoonheid afbreek.

“Die samelewing is baie lank gekondisioneer om skoonheid te beskou as iets wat verwesters is,” het Zozi vertel. En dis presies wat sy reggekry het toe sy in die vroeë oggendure by die Tyler Perry Studios in Amerika as die mooiste vrou in die heelal gekroon is. 

Die skoonheid het intussen die amptelike Mej. Heelal-foto van haarself in die sosiale media gedeel met die boodskap: “Vanaand is ’n deur oopgemaak en ek kan nie meer dankbaar wees dat ek die een was wat daardeur gestap het nie.

Mag elke klein dogtertjie wat hierdie oomblik gesien het, glo in die krag van haar drome en mag hulle hul gesigte in myne sien weerspieël. Ek verklaar met trots my naam, Zozibini Tunzi, Mej Heelal 2019!”

Sedert haar kroning, stroom die gelukwensings aanlyn in vir Zozi. Tot die aanbieder op die aand, die Amerikaanse komediant Steve Harvey, wou Zozi se handtekening na haar kroning hê.

Demi-Leigh Nel-Peters, wat in 2017 as Mej. Heelal gekroon is, was ook in die gehoor en het kort na Zozi as Mej. Heelal gekroon is, ’n foto van hulle twee saam op Instagram gedeel. 

“Suid-Afrika, sy het dit gedoen! Baie geluk @zozitunzi. Ps. Ek het ’n lysie vir jou oor wat jy in New York kan doen,” skryf Demi, wat na sy as Mej. Heelal gekroon is vir 'n jaar in New York gewoon het. Zozi gaan nou ook binnekort na die Groot Appel vertrek om vir haar jaar as Mej. Heelal daar te woon.

Tamaryn Green was ook onder diegene wat Zozi gelukgewens het. Die voormalige Mej. Suid-Afrika het verlede jaar net-net die titel misgeloop toe sy as eerste prinses in die Mej. Heelal-kompetisie in Thailand aangewys is.

Catriona Gray van die Filippyne het toe met die Mej. Heelal-kroon weggestap. Catriona was ook vanjaar ’n beoordelaar by die Mej. Suid-Afrika-kompetisie waar Zozi as die mooiste vrou in die land gekroon is.  

Zozi se stilis, Werner Wessels, het haar ook gelukgewens. “Alle eer aan God! @zozitunzi is die nuwe Mej. Heelal,” skryf hy. 

Werner het voorheen gesê hy kan nie presies beskryf hoeveel hy haar aanbid en hoe gelukkig hy is om haar in sy lewe te hê nie. 

“Dit was slegs vyf maande, maar dit voel soos jare dat ons op hierdie reis was. Ek is so ongelooflik trots op jou en hoe jy gegroei het! Jou lewe en verhaal het my siel aangeraak, net soos ek weet dat dit duisende mense en binnekort miljoene mense sal raak. Ek glo in hierdie platform, ek glo in jou verhaal, maar bowenal glo ek in jou! Gaan vanaand daar weg soos die vegterkoningin wat ek weet jy is en wys die heelal waarvan jy gemaak is!" skryf hy verder.

"Ek sal daar wees om my longe uit te skree en te huil nog voordat die vertoning begin . . . net om jou te irriteer met my emosies soos ek altyd doen! Lief vir jou na die heelal en terug! Amandla! Ke nako . . . voel dit, dit is hier!”

Vir die sanger en fotograaf Willem Botha was dit ’n groot voorreg om met Zozi te werk net voor haar vertrek na Amerika. Hy het die amptelike Mej. Suid-Afrika foto’s van die skoonheid geneem.

“Die lekker ding om saam met Zozi, haar afrigter Werner Wessels en die Mej. SA-organisasie te werk, is dat hulle soveel passie het. Dis aansteeklik! Hulle werk so hard,” vertel Willem aan Huisgenoot. 

Hy het die eerste fotosessie met Zozi by sy huis in Silver Lakes in Pretoria gedoen. “Sy het my sommer dadelik ’n drukkie gegee en laat voel asof ons mekaar al vir jare ken! Sy is spontaan, warm en wanneer sy praat luister almal,” vertel Willem.

Die tweede fotosessie waaraan hulle gewerk het was vir haar nasionale kostuum en aandrok wat by haar spogwoonstel in Sandton geneem is. “Wanneer sy voor my lens staan is sy 200% gefokus en sterk! Sy't ’n ongelooflike energie.”

Volgens die sanger het hy die afgelope naweek in Namibië opgetree en eers Sondagaand negeuur in die land gekom. Hy moes toe weer gereed maak vir ’n vlug na George, maar dit het hom nie gekeer om wakker te bly om die Mej. Heelal-kompetisie te kyk, wat vanoggend van 02:00 af uitgesaai is nie. Sy is 05:00 as Mej. Heelal gekroon. 

“My senuwees was klaar, want dié keer het ek ’n pad gestap saam met haar tot die aanloop van die kompetisie. My gunsteling-sangeres is Carrie Underwood. Toe hulle haar liedjie The Champion speel terwyl Zozi geloop het in die Top-3 het ek dadelik geweet sy gaan wen,” sê Willem.

Jongste uitgawe

19 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees