Suid-Afrika se Zozibini Tunzi, die voormalige mej. Heelal, gaan eersdaags in ’n fliek saam met die Amerikaanse aktrise Viola Davis verskyn.
Zozi het die nuus Woensdag op haar Instagramblad gedeel.
“Ek is geëerd om aan te kondig dat ek vir die fliek The Woman King gekies is. Dit is ’n hele nuwe wêreld vir my, en dit is die eerste keer dat ek só iets sal ervaar,” sê Zozi.
Zozi sê sy gaan hierdie nuwe ervaring met oop oë aanpak. Sy sê sy sal die projek met respek en waardigheid aandurf.
“Ek sien baie uit daarna, en ek is ewig dankbaar hieroor,” skryf Zozi.
Maar Zozi mag vir eers nie onderhoude oor die fliek, wat deur Sony vervaardig word, toestaan nie, het ’n woordvoerder by navraag aan Huisgenoot gesê.
Dié fliek behoort al vanjaar op die silwerdoek te wees en sal na verwagting in September uitgereik word.
The Woman King is ’n historiese periodedrama wat deur Dana Stevens geskryf is, met Gina Prince-Bythewood wat in die regiestoel ingeskuif het.
Die fliek speel in die koninkryk van Dahomey in Afrika af, waar Benin vandag is. Viola se karakter, Nanisca, is ’n generaal in die weermag wat nét uit vroue bestaan.
Die aktrise Thuso Mbedu, wat die rol van Nawi vertolk, sal by dié weermag aansluit.
Nanisca en Nawi sal saamwerk in die fliek om die koninkryk se vyande aan te durf en mense te bevry wat as slawe aangehou word.
Die bekroonde aktrise Lupita Nyong’o was veronderstel om saam met Viola in die fliek te verskyn, maar nadat Lupita in April 2021 uit die fliek onttrek het, is sy met Thuso vervang.
Die fliek word op 16 September 2022 uitgereik as alles vlot verloop.
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!