Sasha-Lee neem oor as Mej. SA: 'Ek het groot skoene om te vul'

akkreditasie
Die Mej. Suid-Afrika-naaswenner, Sasha-Lee Laurel Olivier, is amptelik as Mej. SA gekroon.

Dít kom nadat Zozibini Tunzi in Desember verlede jaar in Atlanta, Georgia, as Mej. Heelal gekroon is.

Sasha sal Zozi se pligte nou amptelik oorneem. 

Die 26-jarige Sasha-Lee het onlangs aan die Mej. Wêreld-kompetisie in Londen deelgeneem en die top-40 gehaal. Toni-Ann Singh van Jamaika het die titel gewen. 

Die amptelike Mej. SA-sosialemediarekening het die aankondiging Woensdag gemaak. 

Sasha-Lee is glo in die wolke om die Mej. SA-kroon te dra. “Ek is baie bly vir Zozi, wat dit in elke opsig verdien om die Mej. Heelal-skouerband te dra. Ek wens haar alle sukses toe. Ek het groot skoene om te vul. Ek wil net hê Zozi moet weet ek sal my bes doen om dit vol te staan.”

Zozi het uit New York, waar sy vir die duur van haar tydperk as Mej. Heelal bly, gesê sy is verheug dat Sasha-Lee by haar oorneem. 

View this post on Instagram

Stepped out of my last meeting like??...

A post shared by Zozibini Tunzi (@zozitunzi) on

“Ek kan nie aan iemand dink wat meer geskik is om Mej. Suid-Afrika te wees nie. Sasha het dit alles: skoonheid, intelligensie en, bowenal, ’n toegewydheid om ander te help. Ek het geen twyfel dat sy haar tydperk sal gebruik om behoeftiges se lot te help verbeter nie.”

Sasha sê: “Om die Mej. Suid-Afrika-titel oor te neem, beteken ek kan aanhou werk om vroue te help wat, soos ek, seksueel mishandel is. Dit sal vir my ’n topprioriteit tydens my tyd as Mej. Suid-Afrika wees.”

Sasha-Lee is nie geglo toe sy vir volwassenes vertel het sy is herhaaldelik verkrag nie. Sy wil steeds haar tyd aan die veldtog Beauty with a Purpose wy wat sy in Desember verlede jaar na die Mej. Wêreld-kompetisie geneem het. 

Sasha-Lee se #it’snotyourfault-veldtog is daarop gemik om te sorg dat mense wat, soos sy, seksuele aanranding beleef het, weet hulle is nie vir hul mishandeling te blameer nie. 

Sasha-Lee se veldtog is ontwerp om meisies, seuns, vroue en mans wat seksueel mishandel is te ondersteun, inspireer en help. Sy sê sy het die veldtog #ItsNotYourFault gekies, want “’n baie diep gevoel van skaamte gaan met verkragting en langtermyn- seksuele misbruik gepaard. Diegene wat deur die toedoen van oortreders gely het, voel vir hul eie misbruik verantwoordelik en is uiters skaam oor wat met hulle gebeur of gebeur het.” 

“Ons moet die algemene beskouing hieroor verander – die skaamte lê glad nie by die slagoffer nie.” 

Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie, sê Sasha-Lee sal voortaan al Mej. Suid-Afrika se pligte aanvaar en ook haar verpligtinge teenoor die borge nakom. 

“Dis vir ons heerlik om Sasha as die nuwe Mej. Suid-Afrika bekend te maak, want sy is ten volle toegewyd en gereed om met haar tydperk te begin.” 

Jongste uitgawe

19 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees