Seldsame skildery van prinses Diana vir meer as R3 miljoen verkoop

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
As ’n verdere bewys van haar beroemdheid en blywende nalatenskap is ’n seldsame portret van wyle prinses Diana onlangs vir R3,1 miljoen ($201 600) – meer as 10 keer die verwagte prys – opgeveil.
Prinses Di
'n Seldsame skildery van prinses Diana is onlangs vir 'n onverwagte prys by Sotheby's verkoop. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die ontslape Amerikaanse kunstenaar Nelson Shanks het die olieverfskildery in 1994 – drie jaar voor die prinses se ontydige dood – geskilder.

Volgens die afslaer van Sotheby’s het hulle verwag dit sou $20 000 (R311 000) haal, maar die belangstelling in dié werk het die prys die hoogte laat inskiet. 

Dit is verkoop as deel van ’n veiling van Nelson se versameling en het portrette van voormalige Amerikaanse presidente soos Ronald Reagan en Bill Clinton ingesluit.

Die prinses het glo 35 uur lank gesit vir dié opdragskildery waarin sy 'n groen rok van die Britse ontwerper Catherine Walker gedra het.

Die afslaer beskryf die finale portret as ’n “weerspieëling van die emosionele tol van Diana se openbare lewe in die middel-1990’s, maar ook haar innerlike veerkragtigheid”.

Dit het oorspronklik in Kensington-paleis gehang voordat dit na haar ouerhuis in Althorp in Engeland geskuif is waar haar broer, Charles Spencer, woon.

Nelson het in 2010 ’n tweede vollengte weergawe van die portret van Diana uit geheue geskilder. Hy is in 2015 op die ouderdom van 77 aan prostaatkanker dood.

Die portret.
In die kunswerk dra die prinses 'n groen halternek-rok deur Catherine Walker. Foto: Facebook/Nelson Shanks

Diana het bevriend geraak met Nelson en sy vrou, Leona, en het in 1994 vir hom ’n brief geskryf waarin sy gesê het dat sy hul sittings in Engeland mis. 

“Ek mis vir jou en Leona in Londen, want om na die ateljee te kom was ’n veilige hawe, so vol ondersteuning en liefde,” het sy volgens Sotheby's geskryf. Diana se huwelik met prins Charles het op die rotse geloop terwyl die portret geskilder is. 

Die volgende jaar het sy haar skokkende BBC-onderhoud met Martin Bashir gehad waarin sy onthul het dat daar “drie van ons in hierdie huwelik was, so dit was ’n bietjie oorvol”.

Sy het verwys na Charles en Camilla Parker Bowles, met wie hy nou getroud is, se buite-egtelike verhouding.  

Bronne: Dailymail.co.uk, Today.com 
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boekeskoolsake en hartsakeTeken nou in! 


Jongste uitgawe

30 Junie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees