Simon Cowell is ná 13 jaar verloof! ‘Daar was trane van blydskap’

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die ‘Britain’s Got Talent’-beoordelaar en televisiepersoonlikheid Simon Cowell het eindelik sy jarelange meisie die jawoord gevra.

Sy het ja gesê!

Simon Cowell is verloof aan sy meisie van die afgelope 13 jaar, Lauren Silverman.

HOLLYWOOD, CALIFORNIA - SEPTEMBER 17: Lauren Silv
Simon Cowell en sy verloofde, Lauren Silverman. Foto: Gallo Images/Getty Images.

’n Bron het aan Page Six gesê Simon (62) het aan die beeldskone 44-jarige sosiale vlinder verloof geraak tydens ’n onlangse wegbreek na Barbados waar Simon ’n huis besit.

Dit is geen verrassing dat Simon dié eiland as die plek gekies het om sy meisie die jawoord te vra nie aangesien hy en Lauren mekaar in 2004 by die Sandy Lane-oord hier ontmoet het. 

Die gesin in Barbados (2019).
Die gesin in Barbados (2019). Foto: Gallo Images/Getty Images.

Simon, wat ook ’n bekende beoordelaar op American Idol en The X Factor is, het reeds op Oujaarsaand voor die egpaar se sewejarige seun, Eric, en Lauren se seun uit ’n vorige huwelik, Adam, op een knie neergesak. Maar hulle het onlangs eers die nuus bekend gemaak.

’n Bron het aan The Sun gesê: “Lauren was absoluut verstom en het nooit in ’n miljoen jaar verwag dat Simon haar sou vra om te trou nie. Sy het in trane uitgebars – van blydskap – en natuurlik dadelik ja gesê.”

“Dit was pragtig,” het nog ’n bron gesê oor die spesiale geleentheid en bygevoeg: “Hulle lyk goed saam.”

Die paartjie het mekaar in 2004 ontmoet toe Lauren nog getroud was met die eiendomsmagnaat Andrew Silverman, ’n goeie vriend van Simon.

Simon Cowell, Lauren Silverman, Eric Cowell en Ada
Simon Cowell, Lauren Silverman, Eric Cowell en Adam Silverman woon die seremonie by wat Simon Cowell vereer met 'n ster op die Hollywood Walk of Fame. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ná ’n huwelik van 10 jaar het die Silvermans hul egskeiding in 2013 afgehandel. Dit was ook dieselfde jaar dat Lauren en Simon hul verhouding bekendgemaak het.

Simon het later erken hul verhouding het begin toe Lauren nog met Andrew (45) getroud was.

Maar Simon het homself nooit werklik as troumateriaal beskou nie. 

In Oktober 2014 het hy onthul dat dit wonderlik is om ’n pa te wees, maar om te trou was nie iets waarvoor hy gereed was nie.

Hoewel die wêreldwye inperkings weens die pandemie vir baie paartjies sleg was, sê Simon dat dit vir hulle ’n voordelige tyd was waartydens hulle oor die lewe besin het.

Simon het in ’n 2021-onderhoud met die Britse tydskrif OK! gesê dat hy in daardie tyd besef het hoe spesiaal sy verhouding met Lauren was.

“Covid-19 was die ware toets. Soos almal was ons lank in ’n inperking en dit is wanneer jy besef of julle mekaar se geselskap geniet of nie,” het hy gesê.

“En ons het dit regtig, regtig geniet. Die romanse leef nog. Ons is nader as ooit.”

Bronne: PageSix,US Magazine,The Sun,OK!,DailyMail

Teken in op ons nuusbriewe
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!
Jongste uitgawe

20 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees