Die Hotel-aktrise en haar man, Andries Pretorius, het onlangs afgesit Amerika toe om ’n Christelike fees in Kansas by te woon.
Hulle het toe sommer besluit om twee weke lank daar vakansie te hou. Hul eenjarige dogtertjie, Harper, is in dié tyd tuis in Pretoria deur haar twee oumas versorg.
Simoné en Andries het nog altyd ’n punt daarvan gemaak om vroeg in hul lewe pro-aktief te wees oor reis. “Ons het nie gedink ons gaan so vroeg ná ons babatjie weer kan reis nie,” vertel Simoné.
“Ons was eintlik van plan om haar saam te bring, maar dit sou moeilik gewees het om haar oral saam te vat.”
Die paartjie het ook ’n draai in New York gemaak. Simoné het daar haar 32ste verjaardag gevier. Sy het in 2017 ook die Groot Appel besoek, maar dit was Andries se eerste keer in dié stad.